Pa’s van Riverview-woonstelle in Worcester het verlede Sondag, op Vadersdag, ’n verrassingsbesoek gekry toe lede van die organisasie Body of Christ ’n opelugdiens – gemik op pa’s wat die pad byster geraak het – in die hartjie van dié woonstelle gehou het.
Body of Christ is ’n organisasie wat bestaan uit onder meer predikante, profete, pastore, evangeliste en apostels – almal van verskillende denominasies.
Die organisasie se doelwit is vir die verskillende denominasies om saam te werk om eenheid en wedersydse respek te bewerkstellig.
Profeet Eric Wevers, lid van die Body of Christ, sê verlede Sondag se diens is juis na die Riverview-woonstelle gebring omdat daar pa’s is wat nie kerk toe gaan nie.
Hy sê hulle het die Woord van die Here gebring na diegene wat gehawend is, na die pa wat voel sy vaderskap beteken niks, wat verslaaf is aan dwelms en of alkohol, betrokke is by bendes en bloot voel hy is nie meer waardig om ’n pa te wees nie.
Hy sê die besoek het ook ten doel gehad om dié kwesbares op te tel en hulle te laat verstaan daar is hoop en dat ’n pa se lewe nie hoef te bly soos dit tans is nie.
“Ons wil sy mure wat gebreek is weer kom opbou sodat hy ’n volwaardige man kan wees om op te staan, sy wêreldskleed uit te trek, sy Christenkleed aan te trek en weer die priester van sy huis te kan wees en sodoende die respek van sy gesin terug te kry.”
Volgens past. Eddie Joseph, wat ook lid is van Body of Christ, het baie vaders in alkohol en tik verval en het baie van hul families hulle gevolglik afgeskryf.
Hy sê baie vaders is verniel, het seergekry en word deur families weggegooi.
Volgens hom het die diens ten doel gehad om vir daardie pa’s te sê daar is hoop in dié wêreld waar jy verdruk word en seerkry, en om hom te help terugkry in sy plek as die priester van sy huis.
Joseph sê sodra hulle dit regkry, gaan die betrokke pa’s wie se kinders buite rondloop en betrokke is by bendes, outomaties terugkeer huis toe.
“Maar omdat die pa nie op sy plek is nie, is die hele huis deurmekaar. As ons ’n pa op sy plek kan kry, wen ons ’n hele huisgesin.
“Ons wil weer die hele gemeenskap herstel.”
Joseph sê voorts Body of Christ wil ook fokus op seuns tussen die ouderdomme van 14 tot 18 en hulle onder meer “maniere leer”.
“Ons kinders het nie meer maniere en respek nie. Hulle doen en gaan aan soos hulle wil. Ons wil hulle leer om hul ouers en hulself te respekteer. Vaders is nie meer regtig daar om ons kinders te leer nie.
“Ons wil hulle leer dat wanneer jy eendag in ’n verhouding is, hoe om ’n meisie te respekteer. So wanneer hy eendag trou, sal hy weet hoe om ’n man vir sy vrou en vader vir sy kinders te wees.”
Joseph sê indien Body of Christ die hele Worcester tot bekering kan bring, dan het die organisasie baie goed gedoen.
“Ons wil hê almal moet tot bekering kom, maar dit is ’n proses.”





