By die jong atlete se heldeontvangs terug in Montagu is, van links, Damilleo Andoones, Viljoen Conradie, Danzel Minnaar (organiseerder van die verwelkomingskomittee), Suna Bussell, wat 15de in die o.12-spiesgooi geëindig het, en Kelly Booysen, wat hierdie naweek aan die SA hoërskoolkampioenskap sal deelneem.

Twee jong atlete van Montagu ­­– Viljoen Conradie en Damilleo Andoones – het Montagu se naam die afgelope naweek by die junior SA atletiekkampioen-skap in Germiston, Gauteng, hoog gehou.

Damillio, ‘n gr. 7-leerder van die Ashbury-laerskool, was tweede in die 200 m-hekkies.

Viljoen, ‘n gr. 5-leerder van die Laerskool Montagu, het ‘n goue medalje in die o.11-verspring gewen, waarmee hy die SA rekord met ‘n sprong van 5,22 m verbeter het. Hy het ook ‘n silwermedalje in die 80 m-wedloop in 10,54 sek. losgehardloop.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die Wes-Kaap die interprovinsiale SASA Laerskool-atletiekkampioenskap wen. Dit is ‘n uitstekende prestasie wat die toewyding van Wes-Kaapse skole en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se ondersteuning van skolesport weerspieël.

Die kampioenskap het van 20 tot 22 Maart geduur en plaaslike laerskoolatlete het in al hul items uitgeblink. Jong Wes-Kaapse atlete het altesaam 88 medaljes verower: 41 goud, 24 silwer en 23 brons. Gauteng, in die tweede plek, het 78 medaljes ontvang, terwyl Noordwes in die derde plek 28 medaljes verower het.

Dit is die tweede jaar waarin die Wes-Kaapse onderwysdepartement die koste van die provinsiale span geborg het sodat enige talentvolle skoolatlete kon deelneem en met die beste kon meeding sonder om te sukkel om hul deelname te finansier.

Ricardo Mackenzie, die

Wes-Kaapse minister van sport en kultuursake, het die span gelukgewens.

“Ons is baie trots op

hierdie uitstaande jong atlete, wat toewyding en verbintenis tot die ontwikkeling van hul sportvaardighede getoon het. Met sulke talentvolle sterre in die laerskool lyk die toekoms vir Wes-Kaapse sport blink,” sê Mackenzie.

Terug op tuisbodem het Viljoen en Damilleo Maandag ‘n verdiende heldeontvangs geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article