Die paaie van lede van ’n hegte gesin van die plaas Kloppersbosch in die Nuy-distrik is tydelik geskei nadat ’n verwoestende brand verlede week Woensdag (26 April) – aan die vooraand van die winter – in hul plaashuisie uitgebreek het.
Die huiseienaar, die 68-jarige Susanna Witbooi, is verpletter deur die brand. Sy woon tans by haar dogter, Sanna, op die plaas Vinkrivier, terwyl haar seun, die 26-jarige Steven Witbooi, sy vriendin, Elizabeth Swarts, en hul tweejarige seun, Julian, tans by Swarts se suster, Natasha, op dieselfde plaas woon.
Volgens Steven is die huis tans om veiligheidsredes gesluit. Hy sê hy weet nie wanneer hulle weer kan terugtrek nie.
Susanna was te emosioneel om met Standard oor die brand te gesels.
Swarts sê op haar beurt die brand het uitgebreek toe Julian glo met vuurhoutjies in een van die slaapkamers gespeel het.
Niemand is in die voorval beseer nie.
Volgens haar het sy Woensdag-oggend omstreeks halfelf ’n digte rookwolk in die kombuis gewaar terwyl sy besig was om skottelgoed te was.
Sy sê Julian was in daardie stadium alleen in die slaapkamer waar die brand uitgebreek het.
Swarts sê sy het gaan ondersoek instel en gesien dat een van die beddens in die betrokke slaapkamer in vlamme gehul is.
Volgens haar het sy Julian gegryp en buite gaan hulp soek.
Swarts sê bure en omstanders kon nie daarin slaag om die brand te blus nie. Volgens haar het die vlamme net groter geraak. Sy sê brandbestryders het later die brand geblus.
Volgens Steven woon sy ma al meer as 30 jaar in die betrokke huis waarin sy haar vier kinders grootgemaak het.
Buiten onder meer klerekaste, skoene, linne, beddens – waarvan een nog nuut was – geboortesertifikate en bankkaarte wat in die brand verwoes is, het die vlamme ook die enigste foto’s wat Susanna van haar oorlede man, Jan, en hul kinders gehad het, verteer.
. Enigeen wat die familie behulpsaam kan wees, kan Susanna Witbooi by 065 682 7756 bel.





