’n Bekende inwoner en besigheidseienaar van Worcester, Cindy Etzebeth (42), is tragies oorlede.


’n Bekende en geliefde inwoner, Cindy Etzebeth (42) is op Woensdag 14 September skielik oorlede nadat sy aan ’n hartaanval gesterf het.

Cindy was welbekend vir die vele rolle wat sy in die gemeenskap gespeel het.

Gebore in Beaufort-Wes, verhuis Cindy in 2010 na Worcester. Hier vestig sy haarself en begin later haar eie besigheid genaamd, Jessies on Church, ’n klerewinkel geleë in Kerkstraat. Gekoppel aan Jessies Nature Inspired, vestig sy in ’n kort tydjie vir haarself ’n naam as entrepreneur. Sy open later Cindy’s Kitchen en verweef hier haar passie vir goeie kos en vriendelike diens.

Cindy se skoonsuster, Yolande Fourie, vertel aan Standard dat sy baie lief was vir mense en sy ’n passie gehad het om ander te help.

“Cindy se passie was om haar medemens te help en ’n verskil in mense se lewens te maak. Sy het altyd die belange van ander op haar hart gedra. Daar was altyd tyd vir ’n geselsie en om grappies maak. Buiten haar besighede was sy ook betrokke by Worcester Toerisme en het hier op die bestuur gedien.”

Op Woensdag 14 September het Cindy nog die oggend gaan oefen en vir ’n vriendin vertel dat sy baie goed voel. Enkele ure later is Cindy tragies van haar familie weggeneem.

“Cindy se afsterwe was baie onverwags. Sy was baie opgewonde oor die lewe en het gesê dit gaan n goeie dag wees. Sy het die oggend nog baie opgewonde beplan wat vir die dag op die spyskaart gaan wees by haar winkel. Min het ons almal geweet dit is haar laaste dag,” voeg Fourie by.

Alhoewel sy nie kinders van haar eie gehad het nie, was haar familie se kinders vir haar soos haar eie.

“Sy het hul bitter baie lief gehad. Sy was altyd reg om die kinders te bederf, reg om hul uit te neem en tyd saam met hulle te spandeer. Die kinders was ook altyd opgewonde om altyd oor te slaap by tannie Cindy. Elke Kersfees het sy seker gemaak die familie kom bymekaar sodat die kinders dit kan geniet en kan leer dat families belangrik is,” voeg Fourie by.

Ethan Etzebeth, Alexa Etzebeth, Diniel van der Mescht, Ané Etzebeth, Janke Jordaan, Eva Blom, Swayne Fourie en Nina Fourie sê aan Standard dat hulle hul geliefde tannie reeds baie mis.

“Tannie Cindy, ons gaan jou so bitter baie mis. Ons was baie lief vir jou.”

Cindy was ook verloof aan Willem “Baby” Jordaan en almal beaam dat Baby haar alles was. Talle inwoners het ook hierdie tragiese nuus wyd op sosiale media gedeel en almal spreek van die vrou wat se hart groter was as wat haar hand oop was vir diegene in nood.

Haar lewe sal op Donderdag 22 September om 14:00 by die Lions-klub in Worcester gevier word.

Haar verloofde, Willem, haar broers, Edwin, Kobus en Dewald, haar suster Chantel, en haar skoonsusters, Jessica, Christina, Lizmar en Yolande het vir Cindy vir oulaas ’n brief geskryf.

Liefste Cindy,
“Al wat jy ooit wou wees, is ons familie se veilige plek. Met jou moeder hart het jou ons almal altyd bymekaar gebring. Ons geleer om sonder oordeel net jouself te wees. Vir jouself lief te wees. Jy het ’n manier gehad om almal om jou geliefd en spesiaal te laat voel, of dit nou familie,vriende of die man op straat was. Jou lag was aansteeklik en kon als beter maak. Ons kinders was jou kinders, jou alles. Jou hande was altyd reg om te help waar en wie ook al hulp nodig gehad het. Niks was ooit te veel vir jou nie. Jou woorde was “ons gaan OK wees”, Cindy dit voel nie nou so nie, ons val uitmekaar. Ons harte is verpletterd. Jy was die beste lewensmaat, suster, skoonsus, super tannie en vriendin. Jy is onvervangbaar. Saam met jou het elkeen van ons gevoel ons kan enige iets vermag en bereik. Hierdie seer gaan nooit weg gaan nie. Ons gaan moet leer om met dit saam te leef. Ons wêreld staan stil en ons wil nie aangaan nie. Maar jy het soveel tyd en liefde belê in elkeen van ons, elke projek, elke taak. Ons kan nie anders as ons hande te vat en sterk te wees vir Willem en die kinders nie. Dis wat jy sou wou hè. Jou legacy sal aanhou leef tot ons weer ontmoet. Verewig in ons harte.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article