Een van Worcester se bekendste fietsryers van weleer, Magmudh Valley (69), is Sondag tydens die gewilde Kaapstad-fietstoer aan ’n hartaanval oorlede.
Valley, wat op 28 April sy 70ste verjaarsdag sou vier, was seker een van die bekendste baan- en pad-fietsryers van sy era en het in sy roemryke loopbaan menige fietsry-titel verower.
Dit was veral op fietsrybane oor die land heen dat Valley ’n gevreesde naam onder fietsryers was, asook die Suid-Afrikaanse kampioen in die 400 m-naelrit waar hy menige teenstander stof laat proe het.
Valley het ook in padwedrenne sy stempel afgedruk en met hardebaarde soos wyle Ben Saunders, Koos Philander, Naiem de Vos, die Jantjies-broers en ander bekendes in die fietsryw?reld skouers geskuur.
Valley, wat uit ’n familie met noue bande met fietsry kom, was saam met sy ouer broer Sulaiman, sy neefs Tessel en Dougie Crotz, Koos Filanie, Piet Sampson, Theo Brown en vele ander in Worcester die groot trekpleisters by fietsrybyeenkomste, veral in die Boland. Hiermee saam was sy oom Pikkie Crotz ’n lid van Boland Fietsry se bestuur en het ook dikwels as spanbestuurder van die Bolandspan opgetree.
Hy het aan die Hoërskool Esselenpark gematrikuleer en 47 jaar by De Jagers gewerk tot en met sy aftrede in 2018 as senior ontvangsklerk.
Volgens die eienaar, Japie de Jager, was Valley die gom wat De Jagers bymekaar gehou het.
Hy was deel van die “meublement van die firma’’ asook een van die mees lojale werkers van De Jagers, volgens Japie.
Valley was 49 jaar met Aziza getroud en het twee seuns, Mo-Aim en Naiem, grootgemaak.
Valley was ook ’n trotse oupa van twee kleinkinders en laat vyf broers en twee susters agter.
Valley is die afgelope Maandag (13 Maart) volgens Moslem-gebruik ter ruste gel?.





