Luciano Truter (plaasvervanger-losskakel), wat die bal vashou, stoei teen twee Young Hamiltons-spelers.Foto: Chantal Martinus


Die Young Hamiltons-rugbyklub (Hammies) van Worcester het die afgelope Saterdag (8 Julie) die Montagu Villagers (Sesduim) op Hammiespark met 34-12 geklop.

Sesduim het ’n swaar agttal gekies wat voorlangs die grondslag gelê het. Hammies is ’n paar keer met skrumtyd teruggestoot en moes telkemale die bal vinnig uithaal om dit nie te verloor nie.

Die Montagu-agterlyn kon egter nie by die omstandighede aanpas met die bal wat gereeld afgeneem is nie.

Hammies, daarenteen, het volgens sy gewone patroon gespeel, wat die span se agterspelers op hul tone gehou het.

Hierna het hy die wedstryd met alle erns oorgeneem, wat Villa Montagu op die agtervoet gehou het.

Hammies het in die eerste helfte reeds drieë aangeteken en was met rustyd 19-5 voor.

Kort ná rustyd is Hammies se regtervleuel, Claudio Matolla, oor vir ’n pragdrie ná ’n perfekte aangee van die binnesenter, Ethan Setera.

Rowydill Martin (flank) het Hammies se vyfde drie, wat deur die plaasvervanger-losskakel, Luciano Truter, verdoel is, aangeteken.

Hammies se ander driedrukkers was Garth Jacobs (heelagter), Ussiel Langeveldt (buitesenter), en Irvin Malapi (stut).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article