Philbrey Joseph (kaptein en flank) van Young Hamilton’s met die bal op die verdedigingspad.Foto: Chantal Martinus


Die afgelope Saterdag (15 Julie) het alle paaie na die Bolandparkstadion in Worcester gelei toe Young Hamiltons (Hammies) teen Worcester Villagers (Villa) gespeel en met 16-14 gewen het.

Reeds teen 11:00 was daar ’n miernes van beweging soos lang rye ondersteuners van albei klubs hul plekke op die paviljoen ingeneem het.

Dit was veral Hammies wat sommer vroeg-vroeg die voortou geneem het toe Ethan Setera (buitesenter) ná ’n skrumoortreding die eerste drie punte op die telbord gekry en met ’n strafskop geslaag het. Villa het immers hierna ook drie punte aangeteken toe Austin Hendricks (losskakel) ook met ’n strafskop geslaag het.

Hammies het hierna drie strafskoppe kort ná mekaar losgeslaan wat Setera nie in punte kon omskep nie.

Villa het dié gaping aangegryp toe Cubbit Micheals (linkervleuel) vyf punte aangeteken het met ’n drie (3-8 in Villa se guns), wat die span nie kon verdoel nie.

Na hiérdie prag-rugby het Villa se uithalerslot, Llewelyn Buys, die veld verlaat weens mediese redes, wat ’n redelike terugslag vir die span beteken het.

Hammies het nie op hulle laat wag nie toe Ussiel Langeveldt (plaasvervanger-senter) ’n drie gedruk het wat Setera oorgeskop het en die span met 10-8 laat voorloop.

Kort ná rustyd het Villa die voortou geneem toe Hendricks met nog ’n strafskop geslaag het (10-11).

Hammies het egter toe verder baklei en met 13-11 voorgeloop toe Luciano Truter (plaasvervanger-losskakel) se strafskop die kol getref het.

Met die uurglas wat vinnig leeggeloop het, het Villa weer eens ’n strafskop gekry wat Hendricks netjies oorgeskop het vir ’n 14-13 voorsprong. Met amper sewe minute ekstra tyd, word ’n strafskop aan Hammies toegeken wat die kop-aan-kop wedstryd tot ’n einde gebring het toe Truter suksesvol oorgeskop en Hammies 16-14 gewen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article