Luciano Elias, die woelige skrumskakel van Young Hamiltons (Hammies), slinger die bal na sy agterlyn in hul grootuitdaagbeker-kragmeting teen Villagers Montagu. Elias het twee van sy span se ses drieë gedruk. Hammies het 43-27 op die King Edward-sportterrein in Montagu geseëvier. Foto: Norman Evertson


Young Hamiltons het Saterdag die span van Montagu Villagers, oftewel Sesduim, met 43-27 op die King Edward-stadion in Montagu geklop.

Hammies het met dié oorwinning ’n waardevolle bonuspunt verdien en hoop op ’n plek in die prestigeryke Boland-Top-12 later vanjaar.

Die Worcesteriete het van meet af aan hul voorneme duidelik gemaak, maar dit was tog Villagers wat eerste hul rekening met ’n netjiese strafskop geopen het. Hammies het vinnig teruggeslaan toe sy skrumskakel, Luciano Elias, ná ’n skrum steelkant om gebreek en langs die pale oorgegaan hewt. Die linkervleuel, Luciano Truter, het verdoel vir ’n 7-0-voorsprong. Truter het kort hierna met ’n strafskop geslaag om Hammies met 10-3 te laat voorloop.

Villagers het egter nooit bes gegee nie en is ná ongeoorloofde spel, wat die vaskopstut, Regardt Valla, op die sonde-stoel laat beland het, met ’n strafdrie beloon wat sake met 10 elk gelyk gemaak het.

Sesduim het kort voor rustyd die voortou geneem ná volgehoue druk en oorgeduik om met ’n suksesvolle doelskop teen rustyd 17-10 voor te loop.

Luciano Elias is kort ná rustyd oor toe hy twee verdedigers geklop en onder die pale gedruk het, om sake weer gelyk te maak – 17 elk.

Hammies het geleidelik beheer oorgeneem met goeie samespel tussen sy voor- en agterspelers. Sy oopkantflank, Lethan de Bruin, is ná ’n goeie rolmaalbeweging oor vir ’n onvervyfde drie voordat die losskakel, Shane Pietersen, kort hierna gedruk het, maar dié drie ook nie verdoel kon word nie (telling: Mammies 29-17 voor.

Villagers het hierna punte gekry toe ’n bal wat losgespat het, deurgegeskop en toegeval is (telling 29-22).

Ussiel Langeveldt en die senter Ethan Setera is hierna kort ná mekaar oor met een drie wat deur Truter verdoel is, om die eindtelling op 43-27 te staan te bring nadat Villagers ook hul vierde drie aangeteken het om aan hulle ’n waardevolle bonuspunt te besorg, maar dié drie kon nie verdoel word nie.

Hammies-B het Montagu Villagers se naasbestes met 28-0 geklop en ’n bonuspunt verdien terwyl Hammies gesukkel het om Villagers se C-span 10-0 te wen.

Saterdag (7 September) is die tweede derby in Worcester teen Villagers Worcester op Esselenpark-stadion.

Kaartjies is by Spar in die arkade en Tops in Hoogstraat beskikbaar. Geen ander afsetpunte sal tot 15:00 Saterdag kaartjies verkoop nie.

Kaartjiepryse is op die klub se Facebook-blad beskikbaar.

Toeskouers word gevra om vroeg te kom om ’n toeloop by die hekke te verhoed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article