Die Young Hamiltons (Hammies) RFK het Saterdag (24 Junie) alles uitgehaal om ’n begeesterde Protea RFK op De Doorns te klop.
Die blou truie van Worcester (Hammies) se agttal het die pap van die begin af dik aangemaak en die grondslag met meedoënlose skrumwerk gelê.
Hier was Darren Williams (haker) met die stutte Irvin Malapi en Bertram Jacks fenomenaal saam met Chad Oosthuizen (agsteman) en die span se flanke, Bevan Malapi, en Philbrey Joseph.
Proteas het in die eerste helfte in die skrums klippe gekou en is telkens meters van hul eie bal af teruggestoot.
Dit het die grondslag vir Ettinique Adams (agterspeler) en Ethan Setera (senter) gelê, wat Hammies met twee verdoelde drieë vroeg met 14-0 laat voorloop het.
Proteas het egter nooit gaan lê nie en met mening teruggeveg tot waar hulle teen halftyd ’n gelykoptelling van 17 elk bewerkstellig het nadat Setera (van Hammies) ook met ’n strafskop geslaag het.
Teen rustyd het die Proteas al drie drieë gedruk, waarvan een verdoel is, en die ander twee onverdoel teenoor die twee van Hammies.
Hammies het in die tweede helfte meer klinies gespeel en is met drie strafskoppe beloon, wat Setera in punte omgeskep het om sy span met 26-17 te laat voorloop.
Proteas se regtervleuel, Jonathan Jordaan, het met 15 minute speeltyd oor hul bonusdrie aangeteken, wat die hoop vir ’n oorwinning laat opvlam het nadat die drie verdoel is en die verskil toe slegs twee punte (26-24) in Hammies se guns was.
Hammies se agttal het egter ander planne gehad toe hulle ’n strafskop vyf meter van die doellyn kry en Philbrey Joseph (flank) ná ’n tikskoppie oorgebars en Luciano Truter (plaasvervanger-losskakel) verdoel het om Hammies met 33-24 te laat voorloop.
Proteas het reg teen die einde van die wedstryd ’n vyfde drie aangeteken, wat die eindtelling na 29-33 gebring het.. Saterdag (1 Julie) reis Hammies na Robertson om teen Robertson Town kragte te meet.




