Twee spelers van Bella Vista probeer Hammies se heelagter, Garth Jacobs, stuit.Foto:


Young Hamiltons se voorseisoense vriendskaplike rugbywedstryd teen Bella Vista in Ceres het Saterdag skaars 40 minute gehou, toe stap die Hammies van die veld af nadat spelers dalk te veel geesdrif getoon het om terug te wees op die rugbyveld en humeure opgevlam het.

Volgens ’n paar toeskouers het die manne van Bella Vista te dikwels vuilspel beoefen. Hammies het verskeie kere by die skeidsregter gekla.

Dit het uiteindelik daartoe gelei dat albei spanne van die veld af gestap het voordat enige ernstige voorvalle kon plaasvind.

Een van Hammies se afrigtingspan, Cheslin Adams, het gesê hoewel geen ernstige voorvalle plaasgevind het nie, het die bestuur van albei spanne besluit om die situasie te ontlont deur die wedstryd te staak.

Ongelukkige ondersteuners van albei klubs het hul misnoeë oor die situasie uitgespreek omdat dit nog voor rustyd gebeur het en daar in daardie stadium steeds mense by die stadion ingestroom het.

Hulle het hulle nadat die situasie verduidelik is, by die besluit berus.

Ná konsultasie met die betrokke skeidsregters is die twee spanne kleedkamers toe, waarna almal die stadion verlaat het.. Bella Vista C het Hammies C in die eerste wedstryd van die dag met 20-0 geklop terwyl Bella B met 12-07 gewen het.

Hammies begin sy liga- verpligting Saterdag met ’n tuiswedstryd teen Bonnievale United.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article