Hammies het hierdie naweek koning gekraai toe hy Villa op sy tuisveld geklop het.Foto: Luciano du Toit


Young Hamiltons het Saterdag ’n soete oorwinning gesmaak in sy Paas-derbystryd teen Villagers.

Die dag het ’n program vol opwindende rugby opgelewer, met Alberts-rugbyklub as die hoofbeplanner. Primroses, Worcester Villagers (Villa), Young Hamiltons (Hammies) asook Esselenpark Sekondêr en Hoërskool Breërivier deel gehad het, was ’n reusesukses.

Nie net het die dag duisende rugbyliefhebbers van die dorp gelok nie, maar talle besoekers van elders, oud-Worcesteriete van oor die land heen en selfs uit Namibië, het die rugbydag met hul teenwoordigheid kom vergas. Ná die geslaagde en suksesvolle rugbytoernooi was almal dit eens dat dit gewis weer ’n jaarlikse instelling moet word.

In die eerste wedstryd van die dag het Esselenpark net te veel skietgoed in sy arsenaal gehad en Breërivier met 29-0 die loef afgesteek. Daarna het Alberts B Primroses se naasbestes 17-8 geklop.

Hierna het Hammies se naasbestes Primroses A 31-10 platgetrek nadat die wenspan teen rustyd reeds gerieflik 19-0 voor was.

Hammies se “Ou Krokkespan’’ het die groot skare hierna met sy uitsonderlike talent vergas toe die ou manne ’n span bestaande uit Alberts- en Villa-oudspelers 29-0 geklop het.

Hierna het Villa se B-span en Alberts se A-span met elk ’n onverdoelde drie 5-5 gelykop gespeel. Die regtervleuel Jacques Damons het vir Villa gaan druk en Alberts se heelagter, Jaden Buys, het agter die doellyn gaan kuier.

In die hoofwedstryd tussen die tradisionele aartsvyande Villa en Hammies, het Hammies verwoed begin en was dit slegs rotsvaste verdediging wat verhoed het dat Hammies punte aanteken.

Kort nadat Villa se heelagter, Larren Buys, met ’n 30 m-strafskop misluk het, het Hammies sy eerste punte aangeteken toe sy losskakel, Useal Langeveldt, gaan druk en sy regtervleuel, Luciano Truter, verdoel het. Villa se skrumskakel, Chris Daniels, het die agterstand laat krimp toe hy steelkant-om gebreek en gaan druk het. Buys se doelskop was egter links verby.

Ná rustyd het Hammies weer met mening aangeval. Dinge het egter lelik skeefgeloop toe Villa se regtervleuel, Eashaan van der Merwe, ’n bal onderskep en 75 m ver genael het om onder die pale te gaan afrond.

Hammies het kort hierna die bordjies verhang toe Truter in die hoekie oorgegaan en hy boonop self pragtig verdoel het.

Hammies het met die stert in die weer met mening aangeval en Langeveldt het sy tweede drie gedruk, en Truter se doelskop was suksesvol.

Die wedstryd is kort hierna vir ’n rukkie gestaak toe Hammies se agsteman (wat tot op daardie tydstip ’n skitterende wedstryd gespeel het), ná vermoedelik ’n harde hou teen die kop ’n epileptiese aanval gehad en deur mediese personeel wat diens gedoen het, gestabiliseer en vir verdere toetse na die hospitaal geneem is.

Villa wou egter nie bes gee nie en is beloon met ’n sewepunter toe sy binnesenter, Zeke Jansen, onder die pale oorgeduik en die plaasvervanger-losskakel Graeme Cupido verdoel het, wat die eindtelling op 24-19 te staan gebring het.

Vir Hammies het sy senterpaar, Euclid Jacobs en Ethan Satera, naas Truter en Oosthuizen, soos trojane verdedig terwyl sy skrumskakel, Manfred Maarman, hom saam met Langeveldt deeglik laat geld het.

Aan Villa-kant het Wayne Wildskut, die kaptein en agsteman, sy ervaring gewys en van voor gelei terwyl die res van die trio – Wayde du Plessis en Edward Haas – ook deeglik hul kant gebring het.

Terloops, die hele agtal van Villa het vir die meeste van die wedstryd die oorhand voorlangs gehad.. Die Boland-rugbyunie se liga-verpligtinge begin Saterdag met Villa wat tuis op Bolandpark teen McGregor te staan kom, terwyl Hammies tuis op Esselenpark teen Proteas van De Doorns kragte meet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article