Young Hamiltons, of Hammies soos hulle in die volksmond bekend staan, het Saterdag 30 Maart op Bolandpark seker gemaak dat hulle met die spogregte wegstap toe hulle hul aartsvyande Worcester Villagers, of Villa soos hulle algemeen bekend staan, met 33-14 getroef het nadat Villa teen rustyd nog met 14-12 voor was.
Hammies het aanvanklik die pap lekker dik aangemaak en verskeie aanvalle op die opponente se doellyn weggestuur. Die verdediging het egter gehou en lekker opwinding onder die waarderende skare opgelewer.
Dit was egter wel Hammies wat eerste bloed geruik het toe die agsteman, Ruwaydill Martin, oorbars vir ’n drie, wat die losskakel, Damian Hopley, ongelukkig nie kon verdoel nie. Die volgende punte behoort ook aan Hammies toe die skrumskakel, Josh Williams, oorgaan vir ’n drie, wat Hopley boonop verdoel vir ’n 12-0 voorsprong.
Villa kry hierna sy eerste punte toe die buitesenter, Eashaan van der Merwe, oorgaan vir ’n drie, wat sy losskakel, Gurshwin Joubert, verdoel nadat Van der Merwe kort voor dit net treë van die doellyn gestuit is. Villa kry hierna so byna-byna weer punte toe sy linkervleuel, John van Neel, en kort daarna sy vleuelmaat, Jean Willams, albei oorgaan, maar die skeidsregter, Piet Swarts, in albei gevalle beslis dat daar aanvanklike oortredings was voordat die drieë gedruk is. Kort voor rustyd kry Villa wel punte en ook sy neus voor toe sy deurwinterde loskopstut, Emile Fortuin, oorgaan vir ’n drie wat Joubert verdoel met ’n 14-12-voorsprong.
Ná rustyd het Villa met mening aangeval, maar dit was egter Hammies wat die voorsprong herwin toe die plaasvervanger-losskakel Usiel Langeveldt skitterend breek en onder die pale gaan kuier. Die plaasvervanger-heelagter Luciano Truter se suksesvolle doelskop laat Hammies nou met 19-14 voorloop. Kort hierna gaan Martin oor vir sy tweede drie en met Truter, wat pragtig uit die hoekie verdoel, rek Hammies se voorsprong na 26-14. Kort voor die einde gaan die plaasvervanger-flank Bevan Malapi oor vir Hammies se laaste drie en met Truter se suksesvolle doelskop eindig die telling met Hammies wat die wennerstrofee welverdiend met 33-14 ontvang.
Ná al die lekker opwinding van die Paasnaweeek verskuif die fokus nou na die liga, wat Saterdag 6 April weer in alle erns hervat met Hammies wat besoek ontvang van Villagers Montagu, of Sesduim, soos hulle bekendstaan, terwyl Worcester Villagers na Happy Valley in Bonnievale reis waar hulle teen Blue Birds te staan gaan kom.

