Shaun Fata (buitesenter) van Young Hamiltons hardloop met die bal na die doellyn.Foto: Chantal Martinus


Young Hamiltons (Hammies) RFK van Worcester het Saterdag (10 Junie) op die Esselenparkstadion Worcester Perseverance met 37-13 verslaan.

Die wedstryd het vinnig tempo opgetel met Persies wat vroeg al sy stempel afgedruk het en in die eerste vyf minute byna oor die doellyn was.

Hammies se rotsvaste verdediging het hulle egter verhoed om vroeg punte aan te teken.

Hammies het met die meer as genoeg balbesit tot sy beskikking verskeie aanslae op Persies afgevuur, maar hanteerfoute tesame met klipharde duikslae deur die besoekers het die tuisspan verhoed om enigsins punte aan te teken.

Persies het eerste punte aangeteken met ’n suksesvolle strafskop, waarna Hammies se Chad Oosthuizen (agsteman) agter die pale gaan druk het. Dié drie is deur Ethan Setera (senter) verdoel en het die puntetelling op 7-3 in Hammies se guns te staan gebring.

Kort hierna het die Hammies-heelagter, Garth Jacobs, deurgebreek en ’n opening vir Setera gemaak om nog sewe punte aan te teken, wat die telling na 14-3 opgestoot het.

Hammies se telling is net voor rustyd verder opgestoot deur Setera se skopskoen met ’n strafskop, waarna die halftydfluitjie met die telling op 17-3 geblaas het.

Persies het in die tweede helfte eerste punte aangeteken met ’n strafskop, wat die telling na 17-6 gebring het – steeds in Hammies se guns.

Hammies het egter verwoed aangeval en Jacobs het ’n pragdrie gedruk, wat deur sy losskakel, Damian Hopley, oorgeskop is om Hammies met 21-6 ver te laat voorloop.

Dit is gevolg deur nog twee drieë deur Rowydill Martin (flank) en Claudio Matolla (plaasvervanger-vleuel).

Persies het nooit gaan lê nie en in die doodsnikke van die wedstryd sy enigste drie gaan druk, wat die eindfluitjie met die telling op 37-13 laat blaas het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article