Eie aan Worcester en sy sportmal geesdriftiges is vanjaar se Paassaterdag-rugbywedstryde op Bolandpark gehou, met Worcester Villagers wat as gashere ingestaan het, en die wedstryde wat honderde ondersteuners gelok het.
Twee opwindende skolewedstryde asook vier lekker senior rugbywedstryde het deel van vanjaar se program uitgemaak.
In die eerste skolewedstryd van die dag klop Worcester Sekondêr se 0.19-span sy eweknie van Somerset Hoër met 21-3, terwyl Esselenpark Sekondêr met 15-6 in ’n opwindende wedstryd getroef is. In die derde wedstryd van die dag klop Primroses se B-span dié van Alberts met 12-10, terwyl Young Hamiltons se naasbestes met 26-20 teen Worcester Villagers se naasbestes bo was.
In die hoofvoorwedstryd van die dag klop Alberts se A-span vir Primroses A verspot maklik met 36-3, terwyl Hammies se A-span ook geen moeite ondervind om Villa se A-span met 33-14 te troef nie.
Daar moet egter onthou word dat Villa sy kaarte styf teen sy bors gehou het en slegs drie van sy gereelde A-span-spelers laat speel het omdat die einste twee spanne oor twee weke weer teen mekaar kragte gaan meet – op 13 April in ’n Grootuitdaagwedstryd, ook weer op Bolandpark. Hammies het self ook verskeie van sy gereelde A-spanspelers laat rus en dus lustig saamgespeel aan die skaakspel.
’n Ander verblydende aspek van vanjaar se deelname was toe Alberts se span met pienk truie op die veld verskyn het, uit solidariteit met die regering se standpunt teen geslagsgebaseerde geweld teen vroue en weerlose kinders.
’n Ander hoogtepunt was toe sewe vroue-ondersteuners van Villa wat kragte saamgespan het teen sewe vroue van Primroses om twee soortgelyke bakkies van die dag se borge vir meer as sestig meter oor die veld moes stoot. Dié tweestryd het tot groot vermaak gelykop geëindig.
Verskeie hooggeplaastes, onder wie die burgemeester, Antoinette Steyn, en verteenwoordigers van die Wynland-distriksmunisipaliteit, Boland Rugbyunie asook verteenwoordigers van die borge, het die dag bygewoon. Die komitee wat die dag gereël het, kan trots wees op wat hy vir die dag bymekaar gesit het.
. Lees wedstryd verslag op bl 15.





