Die A-span van Young Hamiltons-rugbyklub van Worcester het Saterdag (18 Februarie) teen die Perseverance-rugbyklub van Worcester in ’n vriendskaplike wedstryd gespeel waar Hammies die wedstryd op Esselenpark 40-22 gewen het.
Hoewel oorwinnings in vriendskaplike wedstryde nie saak maak nie, was die derby-gees in die Esselenpark-stadion uitstekend en die toeskouers het skouspelagtige drieë gesien.
Beide spanne het lekker jong vyftientalle met ’n paar ervare manne om veral voorlangs die fort te hou.
Beide die Young Hamiltons en Worcester Perseverance se rugby het gesond gelyk met die groot aantal spelers wat hulle in die veld kon stoot met verskeie nuwelinge wat hul buigings gemaak het.
By Persies het veral die jong Jacquin Jacobs uitgedraf en die toeskouers beïndruk terwyl ’n nuweling, Chad Horne, ook die skare in vervoering gehad het.
Hammies se jong Jenico Truter het elke keer as hy aan die bal geraak het, die groot skare op hul voete gehad met sy grootboet Luciano Truter, wat gereeld ruimte vir sy kleinboet geskep het om te baljaar en die Persies-verdedigers omtrent laat bontstaan het.
Die ervare Ashwill Klein en Chad Oosthuizen het saam met Bertram Jacks gewys hulle het nog baie rugby in hulle vir minstens nog drie seisoene.
Die afrigterkorps van beide spanne kan met vertroue uitsien na die nuwe seisoen danksy die magdom talent tot hul beskikking. Persies kan voorlangs ’n bietjie aandag gee terwyl hy agterlangs oorgenoeg slaankrag het om op enige gegewe dag ’n span aan flarde te hardloop.
Hammies, daarenteen, sal die geweldige talent voor en agterlangs reg moet bestuur ten einde ’n faktor in vanjaar se seisoen te wees.
Die eindtelling was 40-22 in Hammies se guns nadat verskeie drieë vir die tuisspan aangeteken is.




