Young Hamiltons het Saterdag vinnig sy derby-roes afgeskud en sy tuiswedstryd teen Ashton United in styl met 51-20 gewen.
Hammies, wat sonder heelparty van sy gereelde A-spanspelers as gevolg van beserings en onttrekkings moes klaarkom, was meedoënloos in sy benadering en het Ashton geen kans gegee om tot verhaal te kom nie.
Spelers soos Jean Paul Valla (slot) en John Williams (flank en kaptein) het voorlangs die pap lekker dik aangemaak, met Luciano Truter en Garth Jacobs wat agterlangs saam met die losskakel, Shane Pietersen, en die vleuel Larren Buys sake dikteer het.
Ashton het in die eerste 20 minute goeie rekenskap van homself gegee met lekker hardlooprugby en hand-tot-hand-bewegings, maar kon slegs ’n strafskop vir sy moeite aanteken.
Hammies was egter meer doelgerig en het teen rustyd drie drieë aangeteken vir ’n 27-3 voorsprong.
Die afrigterspan se woorde in rustyd moes gewees het dat Hammies nie moet fokus verloor nie en moet voortgaan met sy meedoënlose benadering.
Die tuisspan het dus voortgegaan waar hy in die eerste helfte opgehou het en nog drie keer agter die maroentruie se doellyn gaan kuier.
Een van die drieë was ’n stukkie individuele briljantheid toe Garth Jacobs uit sy eie kwartgebied begin hardloop en deur al die Ashton-verdedigers geklief het om self onder die pale oor te val – tot groot vreugde van die groot skare Hammies-ondersteuners en verbaasde Ashton-ondersteuners. Jacobs het dit amper weer gedoen nadat hy ’n bal van die plaasvervanger Jenico Truter gekry en weer deur ’n hele paar Ashton-verdedigers geklief het, maar net voor hy kon druk het hy uitgetrap sonder dat ’n hand op hom gelê is.
Hammies se drieë is deur Ethan Setera, Garth Jacobs, Larren Buys, Joshua Williams, Shane Pietersen en die plaasvervangerhaker Regarth Valla gedruk, met Luciano Truter wat vyf daarvan verdoel en ook met drie strafskoppe geslaag het vir ’n persoonlike bydrae van 21 punte.
Hammies-B het ’n bonuspunt-oorwinning van 22-13 behaal terwyl die C-span met 23-16 aan die wenkant was.
Hammies reis Saterdag na Robertson om teen Town kragte te meet. Busvervoer vertrek om 11:00 vanaf Esselen Tavern.





