Die Hammies-rugbyspan wat die afgelope naweek as wenner uit die stryd getree het. Foto:


Young Hamiltons moes verlede Saterdag op al sy silinders vuur om ’n begeesterde Rawsonville United voor ’n stampvol Rawsiepark te klop.

’n Groot skare het vir die wedstryd wat soos ’n Hammies vs. Persies-derby gelyk het, opgedaag en ’n feestelike atmosfeer is deur die tuisklub geskep.

Hammies het vroeg in die wedstryd bloed geruik toe Keanen Arries (vaskopstut) met brute krag oorgegaan het. Die doelskop was mis en die besoekers was 5-0 voor. Die tuisspan wen hierna ’n losbal terug en ná ’n paar vinnige hand-tot-hand bewegings gaan die regtervleuel Tiano Arendse onder die pale oor vir ’n drie wat deur die losskakel verdoel word.

Kort hierna gaan sy tweelingbroer Tiaan Arendse (buitesenter) ook oor vir ’n drie. Met die onsuksesvolle doelskop loop Rawsonville United 12-7 voor.

Rawsonville val hierna verwoed aan en gaan oor na ’n volle agterlynbeweging waar die linkervleuel, Aden Faroa, in die linkerhoekie oorval vir ’n drie.

Met hul tuisskare agter hulle, speel Rawsonville United voortreflike rugby. Hammies se losskakel Jermaine October gaan hierna oor vir ’n drie na herhaalde druk en verdoel sy eie drie om die agterstand na 12-17 te laat krimp.

Kort voor rustyd maak Hammies die telling gelykop toe die binnesenter Ashwill Klein oorgaan, maar October kon die drie nie verdoel nie. Die rustydtelling is gelykop 17 elk.

Ná rustyd was dit ’n ander Hammies-span wat geleidelik beheer oorgeneem het. Reyaaz Pietersen gaan druk vir Hammies nadat hy deur ’n gaping sny en onder die verdedigers uithardloop. Die plaasvervangerlosskakel Luciano Truter kon egter nie verdoel nie. Pietersen gaan druk sy tweede drie ná ’n volle agterlyn­beweging om met die Truter-doelskop Hammies met 29-17 te laat voorloop. Truter gaan hierna self oor nadat ’n strafskop aan Hammies toegeken word en hy sy naaste teenstanders aan die slaap vang deur vinnig te tik en deur te nael.

Die Persies-aanwins Ethan Setera (binnesenter) slaan die spyker dieper in Rawsonville United se doodskis toe hy deur ’n gaping klief en in die regter­hoekie oorval vir ’n 39-17-oorwinning. Die eindfluitjie is kort hierna deur die skeidsregter Sebastiaan Abrahams geblaas.

Voorlangs het Hammies deeglik sy man gestaan terwyl die lynstane ook baie beter was. Baie jong spelers het in die afgelope vriendskaplike wedstryde hand opgesteek en as hulle reg bestuur gaan word, behoort Hammies ’n span te wees om mee rekening te hou. Agterlangs is daar hope talent veral op skrumskakel waar die klub met verskeie skrumskakels geseënd is.

Hammies B wen 34-5 terwyl die C-span met 17-0 baas was. Hammies reis Saterdag na Ceres om Ceres-RVK die stryd aan te sê.

Busse vertrek om 12:30 van Esselen-tavern.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article