Garth “Seep” Jacobs (heelagter) lê op die grond nadat hy ’n drie vir Young Hamiltons gedruk het.Foto: Chantal Martinus


Die Grootuitdaagliga-wedstryd wat Saterdag (1 Julie) tussen Young Hamiltons (Hammies) van Worcester en Robertson Town op die Van Zylstraat-sportterrein plaasgevind het, het toeskouers vir tagtig minute op hul tone gehou.

As bewys van die kop-aan-kop stryd wat gevoer is, het die eindfluitjie met albei spanne op 32 punte geblaas om gelykop te speel.

Dit was ’n ware fees van drieë, met ’n totaal van tien drieë gedruk wat die skare vermaak het.

Hammies se twee stelskoppers, Ethan Setera en Collin Willemse, het egter op die dag hul skopskoene in Worcester vergeet, wat veroorsaak het dat Hammies ’n paar skoppe verbeur het. Indien hierdie belangrike skoppe suksesvol was, kon dit die wedstryd enige kant toe geswaai het.

Beide spanne se voorspelers het hul als gegee terwyl die agterspelers uitgestaan het met briljante taktieke.

Dit was ’n puik kop-aan-kop wedstryd waaroor rugbyliefhebbers vir lank nog gaan praat.

Hammies se Setera en Claudio Matolla (regtervleuel) het elk twee drieë gedruk, terwyl Garth Jacobs (heelagter), en Reagan Alexander (plaasvervanger-slot) ook elk een keer agter die doellyn gekuier het.

Setera kon egter slegs met een doelskop slaag.

Altesaam het die Worcesterse-span ses drieë gedruk en een doelskop oorgekry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article