Young Hamiltons het weer die derby, wat verlede Saterdag teen Worcester Villagers gespeel is, gewen. Dit is die derde derby wat hy vanjaar teen sy bure wen. Foto: JP Myburg


Young Hamiltons moes Saterdag diep delf om ’n hoogs gefokusde asook begeesterde Villagers Worcester te klop.

Die wedstryd – voor sowat 7 000 toeskouers – het van die afskop af hope drama opgelewer, met die skeidsregter, Shane Muller, wat byna in die eerste drie minute ’n drie aan Villa sou toeken as die vleuel Eushaan van der Merwe nie uitgetrap het nie.

Hammies moes in die eerste 20 minute omtrent walgooi teen ’n gestruktureerde Villa-aanslag met sy voorspelers Yashrie Karriem en Regardt Valla en die slot Jean-Paul Valla. Villa het sake voorlangs erg oorheers en was gou 6-0 voor ná strafskoppe deur Austen Hendricks.

Hammies het egter koelkop gebly en die voortou in die 19de minuut geneem toe sy kaptein, die vaskopstut Bertram Jacks, ná herhaalde aanvalle langs die pale oorgeval het. Villa het egter ná ’n skrumoortreding weer die voortou geneem en Hendricks het sy span 9-7 laat voorloop. Hierna het Villa gaan druk toe Van der Merwe (regtervleuel) twee verdedigers geklop en in die hoekie oorgeval het. Hendricks het verdoel en Villa was skielik 16-7 voor, wat sy Villa-ondersteuners laat juig het.

Hammies het weer punte aangeteken toe Ethan Setera (oud-Villa-speler) onder die pale oor is en Ambrose Steyn verdoel het (telling 16-14). Ná rustyd het Villa verwoed aangeval en ’n drie gedruk, maar Hendricks het egter met die doelskop teen die wind misluk. Chad Oosthuizen het Esselenpark laat brul toe hy oorgeduik en Steyn verdoel het om die telling 21 elk gelyk te maak. Hammies is met 14 minute speeltyd oor onkant betrap en ’n strafskop sowat 40 m ver is aan Villa toegeken. Hendricks het die duisende Villa-ondersteuners laat jubel toe hy teen ’n sterkerige wind met die strafskop geslaag en sake na ’n moontlike oorwinning vir Villagers begin lyk het.

Hammies het egter die bal deur middel van sy plaasvervangersenter Ussiel Langeveldt van die afskop af in die lug gespeel. Met Villa wat gestraf is, het Hammies vinnig gespeel, maar Villa, wat nie vinnig genoeg buite die 10 m-radius kon kom nie, is weer gestraf. Hammies het tot net voor Villa se doellyn gevorder en verkies om te skrum, waarna sy agtsteman, Chad Oosthuizen, duisende Villa-harte gebreek en langs die pale oorgeval het. Luciano Truter het met die doelskop misluk, maar dit het geen demper op die vreugde van Hammies se ondersteuners geplaas nie.

Dit was ook Hammies se bonuspuntdrie met die eindtelling 26-24 in Hammies se guns.

 Hammies B het op dramatiese wyse verloor nadat ’n strafskop reg voor die pale – wat die wedstryd vir hulle sou kon wen – toegeken is, maar die skeidsregter het dit ná oorlegpleging met die lynregters (wat nie al twee hul vlae opgesteek het nie) van die hand gewys, en Villa, wat op daardie tydstip 15-13 voor was, het die wedstryd gewen. Die C-span het 21-18 teen Villa C vasgeval. Hammies geniet hierdie naweek ’n loslootjie as gevolg van die Boland-streekkompetisie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article