Young Hamiltons het Saterdag doelgerig na De Doorns gereis vir hul kragmeting teen Protea (Prouks). Die Worcesteriete het net gedoen wat van hulle verwag is en die wedstryd koel en kalm benader terwyl Prouks begeesterd begin het.
Hammies het Prouks vroeg diep in hul kwartgebied vasgepen en omgekeerde besit bewerkstellig, wat Francois Mampa (buitesenter) ’n vyfpunter in die hoek laat bewerkstellig het. Die losskakel, Luciano Truter, kon egter nie met die moeilike doelskop slaag nie en Hammies was 5-0 voor.
Protea het hard teruggeslaan met volgehoue druk en is met ’n strafskop beloon, wat Nigel Ranchod (losskakel) in punte omgeskep het om die agterstand 5-3 te maak.
Die regtervleuel, Claudio Matolla, het hierna doellyn toe gesuiker en vier verdedigers geklop voordat hy onder die pale afgerond het, en met Truter wat verdoel het, was Hammies 12-3 voor.
Hammies se kaptein, Rowydill Martin, is hierna twee keer kort ná mekaar oor die Prouks- doellyn, maar Truter kon nie een verdoel nie. Morne Human (stut) het kort voor rustyd ’n onvervyfde drie gedruk om die rustydtelling 27-10 in Hammies se guns te maak nadat Ranchod met verbysterende vaart ’n losbal opgeraap, deurgenael en self verdoel het.
Met die begin van die tweede helfte het Prouks, wat in die eerste helfte maar bra planloos voorgekom het, met nuwe vuur gespeel en oorgestorm om die telling 27-15 te maak nadat Ranchod met die doelskop misluk het.
Hammies moes toe omtrent walgooi soos wat Protea die een aanval ná die ander afstuur. Oorgretigheid verhoed Protea egter om tesame met talle hanteerfoute enige verdere punte aan te teken.
Rowydii Martin (kaptein en oopkantflank) het sy derde drie gedruk, wat Truter verdoel het om die sesde drie vir sy span af te rond en die eindtelling 41-15 vir Hammies te maak.. Hammies B het ’n 31-6- bonuspuntoorwinning behaal terwyl die C-span hul tweede 50-tal in hul 50-10 oorwinning aangeteken het.
Hammies speel Saterdag tuis teen Rangers van Robertson.
Kaartjies is beskikbaar by Spar (Quenets Arkade) en Tops in Hoogstraat (geen kaartjies by die hekke nie.
Derbykaartjies behoort ook binnekort te koop te wees.




