Young Hamiltons moes Saterdag (15 April) enduit gefokus bly om Montagu Villagers op die King Edward-stadion in Montagu te klop.
Die wedstryd het vir die tuisspan op ’n hoë noot begin toe ’n afskopblaps in ’n drie vir hulle geëindig het nadat Hammies nie die bal kon beheer nie.
Montagu het egter nie met die doelskop geslaag nie en oomblikke later is Hammies self oor die doellyn toe Bertram Jacks (vaskopstut) deur die verdediging gebars het.
Luciano Truter (vleuel) het die drie verdoel en Hammies het 7-5 voorgeloop.
Hierna is die Worcesterse rugbyspan met ’n strafskop beloon weens hul teenstanders se onkantspel, wat Truter weer suksesvol oorgeskop en Hammies 10-5 laat voorloop het.
Die Montagu Villagers het weer die lig gesien toe ’n strafdrie aan hom toegeken is nadat Bertram Jacks met ’n geelkaart weens ’n skrumoortreding van die veld af gestuur is.
Die drie is verdoel en die telling het op 12-10 in Montagu Villagers se guns gestaan.
Hammies het later weer ’n strafskop gekry, wat die telling voor rustyd 13-12 gemaak het – weer eens dansky Truter se skopskoen.
Ná rustyd het Villagers met mening op die veld teruggekom en ná ’n strafskop 15-13 voorgeloop.
En om net nog verder sout in Hammies se wonde te vryf, het die manne van Montagu vir ’n verdoelde drie oorgestorm en stewig met die telling op 22-13 voorgeloop.
Hammies het daarna ’n strafskop gekry om die agterstand na 22-16 te verklein.
Garth Jacobs (heelagter) het toe ’n drie gedruk, wat Truter weer verdoel het, en skielik was Hammies net een punt voor – 23-22.
Weer het Montagu Villagers aangeval en ’n bonuspuntdrie gedruk met slegs 14 minute se speeltyd oor, wat die telling 27-23 in Montagu Villagers se guns gebring het.
Die spanning het hoog geloop namate die uurglas uitloop en Hammies het in die doodsnikke van die wedstryd sy bes gedoen en nog ’n drie gedruk, wat suksesvol verdoel is om die wedstryd 30-27 te wen.





