Die Hamlet-rugbyklub het Saterdag op sy tuisveld, beter bekend as die Begraafplaas, letterlik en figuurlik uit die kake van ’n nederlaag ontsnap.
Hamlet het Wolseley in ’n uiters spannende Witsentraal-grootuitdaagbekerwedstryd met 29–23 getroef.
Vergeet eers van die eindtelling, want dit vertel nie die volle waarheid van die wedstryd self nie.
Hamlet, wat opgedaag en ’n wandeling in die park verwag het, is egter wreed ontnugter toe Wolseley hom stelselmatig stukkie vir stukkie tot oorgawe gedwing het.
Wolseley het op sy beurt gewys hy het nie gekom vir spogregte nie, maar het vriend en vyand verras vir die manier waarop hy Hamlet letterlik voor sy eie grafsteen laat wankel het.
Wolseley het op ’n pragtige sonskyndag die wedstryd op die mees dramatiese wyse afgeskop, sy voet in die deur gekry en daarna nooit teruggekyk nie.
Hy het van bal een af beheer oor die wedstryd geneem, wat Hamlet en sy getroue ondersteuners in ongeloof laat toekyk het hoe Wolseley vir Hamlet na sy eie graf lei.
Voorlangs het Wolseley Hamlet met uitstekende vaardighede, tegniek en goeie balans letterlik opgedreun. Die houvas wat Wolseley voorlangs gehad het, het sy agterspelers pragtig met netjiese aanvallende spel in die wedstryd gebring.
Hier het die gesoute kombinasie van die invloedryke Nathan van Wyk op nommer 9 en die baie uitgeslape Curtley Cedras op 10, die wedstryd baie mooi bestuur. Hulle het goeie balbesit gehad en dit goed aangewend en soms kringe om Hamlet gehardloop.
Die glanspunt van die dag gaan sonder twyfel aan die nimlike Henrico Maurice, wat senterspel soos net hy kan, gelewer het. Sy puik balverspreiding en skeppende vermoëns het Hamlet se verdediging gedurig aan die raai gehou. Sy wonderlike aanvoeling vir die spel het hom twee netjiese drieë langs die pale besorg – ’n puik beloning vir sy toegewyde spel.
As geheel verdien die hele Wolseley-span lof en eer vir die trots wat hulle met hul puik spel gewys het en dat rugby op die ou einde die wenner was.
Hamlet het met rustyd met ’n redelik stewige voorsprong van 23-16 voorgeloop.
Die hele wedstryd was ’n wipplank-gedoente met die wedstryd wat enige kant toe kon swaai – tot in die doodsnikke van die stryd. Wolseley het alles gedoen wat hy kon, maar dit was die tuisspan wat net genoeg gedoen het om die besoekers voor hul pale uit die wedstryd te hou en die stryd uiteindelik 29-23 te beklink.
Henrico Maurice het twee keer vir Wolseley gedruk. Curtley Cedras het al twee verdoel en ook drie strafdoele oorgeklits. Hamlet se punte het bestaan uit drieë deur Shaurick Blom en Jo-hary Segrys. Marlon Baron het al twee verdoel en vyf strafdoele behaal.


