Die Young Hamiltons (Hammies)-rugbyklub van Worcester het die afgelope Saterdag (22 Julie) hard geveg op Esselenpark om vir Ashton United 38-28 te klop.
Dié tuisspan het in die eerste helfte gesukkel om punte aan te teken as gevolg van hanteerfoute en talle verkeerde besluite.
Daarenteen het Ashton in die eerste 40 minute van die spel ’n skitterende hand gehad, en ’n onverdoelde drie aangeteken, met die telling 5-0 vir Ashton.
Hammies is kort voor rustyd self pale toe, toe Ettinique Adams (regtervleuel) ná ’n volle agterlynbeweging ’n drie gedruk het, en Luciano Truter (heelagter) dit verdoel het, met die telling 7-5 vir Hammies.
Ashton het immers in die tweede helfte die bal heelwat lug gegee, maar hul aanvalle is met meedoënlose verdediging in die kiem gesmoor.
Die span het egter ’n strafskop gekry, na Hammies se onkantspel, wat hulle ’n 8-7 voorsprong gegee het.
Rowydill Martin (slot) van Hammies het hierna ’n suksesvolle drie gedruk wat Truter weereens verdoel het, met die telling 14-8 vir Hammies.
Ongedissiplineerde spel deur Ashton het egter hierna vir Hammies nog punte beteken toe die span ’n strafskop by hul punte-telling gevoeg het.
Adams het hierna nóg twee keer oor die doellyn gehardloop, wat die span ’n driekuns aan drieë besorg het. Adams is ook as die speler van die wedstryd gekroon.
Ashton het hierna die druk gevoel en in die doodsnikke van die wedstryd nog twee keer geslaag met ’n strafskop en ’n skepskop wat die telling na 38-28 gebring het.


