Talle spanlede en ondersteuners van die Protea-rugbyklub van De Doorns en die Robertson Rangers is bekommerd oor die toestand van sportvelde in die streek nadat ’n video op Facebook en ander sosialemediaplatforms die ronde gedoen het nadat Protea vir Robertson Rangers as gaste gehad het.
Die video, wat ook op die Boland- en Breë Langeberg-rugbyblad op Facebook gedeel is, wys hoe spelers in die De Doorns-Wes-sportterrein se kleedkamers aantrek. Die video wys in watter haglike toestand die kleedkamer is aangesien daar geen plafon, banke of ligte is nie.
Hierdie beeldmateriaal het belangrike gesprekke oor die stand van munisipale geriewe aangewakker.
’n Oudrugbyspeler het aan Standard gesê sommige kleedkamers is in só ’n slegte toestand dat hulle as span dikwels in hul motors of agter bome aangetrek het.
Mense het reg deur die rugbyseisoen sosiale media gebruik om hul ontsteltenis oor geriewe uit te spreek.
Aan die vooraand van die Burgemeestersbeker (Mayoral Cup) wat die naweek plaasvind, sal dit noodsaaklik wees om te verseker dat die geriewe wel op peil is.
Standard het die Breedevallei-munisipaliteit genader vir kommentaar oor die sportterrein, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.





