Skaf maar ’n hele klomp kerse aan en maak reg vir ’n donker winter.
Eskom sê as die ergste gebeur, kan dit 100 dae van beurtkrag in die winter tot gevolg hê.
Sommige voorspellers sê egter dit kan baie meer wees, omdat dié skatting optimisties aan die kragvoorsiener se kant is.
Dit is omdat die kragverskaffer heel waarskynlik beduidende onbeplande onderbrekings en gure weer deur die winter sal moet bestry.
’n Hele paar opwekkingseenhede wat aan die begin van die week gebreek het, asook ’n gesukkel om sekeres weer aan die gang te kry, het tot gevolg gehad dat Eskom noodgedwonge fase 2-beurtkrag van Dinsdagmiddag tot Vrydagoggend moes instel.
“Die vooruitskatting waarna ons vir hierdie winter kyk, is tussen 12 000 en 15 000 megawatt se onbeplande onbeskikbaarheid. Gegrond op daardie scenario sou ons tot 100 dae beurtkrag gedurende die winter moet toepas.”
Gavin Hurford van Eskom sê egter scenario-beplanning toon 100 dae beurtkrag sal die uiterste wees.
“Ons verwag dat dit in daardie omgewing sal wees. Beurtkrag sal gewis ingestel moet word, veral oor die aand-piektydperke, aangesien die kouer weer ons in die winter tref.”
Die vooruitskatting is op die onstandvastigheid van kragstasies – voorheen en in die toekoms – gegrond.
“Beurtkrag is Dinsdag om 17:00 ingestel en sou tot Donderdag om 05:00 duur. Dit sou weer Donderdag om 17:00 hervat word en tot Vrydagoggend om 05:00 duur,” het Sikonathi Mantshantsha, Eskom se woordvoerder, Dinsdagaand gesê.




