Die onlangs nat en gure weerstoestande het tot talle botsings op paaie in die vallei gelei.
’n Volkswagen Polo en ’n Toyota Hilux-bakkie het Vrydag 17 Februarie omstreeks 11:00 in die Hexrivierpas in die rigting van De Doorns teen mekaar gebots.
Die oorsaak van die botsing is nog onbekend.
Beserings is aangemeld, maar niemand is dood nie.
Later dieselfde aand – omstreeks 23:00 – het ’n vragmotor wat bale vervoer op bykans dieselfde plek in die Hexrivierpas omgeval. Die vragmotorbestuurder is op slag dood.
’n Uur later het ’n motor in die Brandwacht-gebied buite Worcester gerol. Die ongeluk, wat slegs een voertuig ingesluit het, het naby die Brandwacht-gastehuis gebeur. Beserings is aangemeld en hulp is vir die beseerdes verkry.
’n Bron na aan Standard vertel egter dat die gure weerstoestande, wat reën en sterk wind ingesluit het, gewis ’n bydraende faktor tot die voorvalle was.
Jandré Bakker, ’n woordvoerder by die provinsiale verkeersafdeling, het onlangs ook ’n beroep op motoriste gedoen om in hierdie weerstoestande waaksaam te wees en rig gereeld ’n pleidooi aan bestuurders om veilig te wees en ’n veilige spoed te handhaaf wanneer hulle op die paaie is.
Die Breedevallei-munisipaliteit deel ook gereeld waarskuwings op sy sosialemedia-platforms, wat belyn is met die provinsie se rampbestuursmaatreëls. Dit sluit weerwaarskuwings in wat motoriste kan inlig oor die toestand van paaie en die impak wat die weer op paaie het.
Nog ’n botsing, wat nie weens slegte weerstoestande veroorsaak is nie, het Dinsdag (21 Februarie) op die R60 net buite Worcester tot beserings gelei.
Een insittende is beseer en na die Worcester-hospitaal geneem nadat ’n bakkie, wat as ’n afleweringsdiens vir ’n bekende meubelwinkel naby Zwelethemba gebruik word, gestaan en wag het dat skape die pad oorsteek. Die volgende oomblik het ’n vrou in ’n Toyota Corolla die bakkie van agter getref.
Talle ander voorvalle is die afgelope week in die streek aangemeld en Standard doen ’n beroep op motoriste om veilig en waaksaam te bestuur.





