Jy kan die volgende Afrikaanse miljoenêr wees!

Vinnige vingers eerste – kykNET se gewilde vasvraprogram Wie word ’n miljoenêr? soek weer deelnemers. Soos met die vorige reekse is ’n allemintige R1 miljoen weer op die spel, wat wag om deur iemand wat ’n goeie skeut algemene kennis het, opgeraap te word.

Dit kan jy wees, want hoeveel keer sit jy nie en kyk vasvraprogramme op TV en gil die antwoord uit nog voordat die deelnemer kan nie?

Sê koebaai vir jou rusbank en gryp hierdie geleentheid aan. Selfs al het jy vantevore probeer, is die deur vanjaar weer wyd oop om in te skryf. Só kan diegene wat ook al voorheen hul vinnige vingers in die ateljee gewaag het sonder om dit tot by die warmstoel te maak, weer inskryf. Die gesegde lui nie verniet “derde keer is skeepsreg nie” – hierdie is dalk net die geleentheid waar jou miljoenrand-skip eindelik aan wal kom.

Sedert Wie word ’n miljoenêr? die eerste keer in 2021 op kykNET begin het, is altesaam R5,5 miljoen se prysgeld aan 120 wenners uitbetaal. Tog het niemand tot nou al die miljoenrandvraag beantwoord nie . . .

Die eerste groot wenner wat Wie word ’n miljoenêr? opgelewer het, was in 2022 toe die sakejoernalis en skrywer Theunis Strydom R500 000 in sy sak gesteek het.

Verlede jaar het die joernalis Susan Booyens presies dieselfde bedrag losgeslaan nadat sy een korrekte antwoord weg van die R1 miljoen was.

Susan se raad?

“Waarvoor wag jy? Gryp die kans! Steek jou banggeit in jou sak en gaan daarvoor – jy’t regtig niks om te verloor nie en jy weet vir seker meer as wat jy dink,” sê sy.

“Dis ’n groot avontuur, en as jy nie die antwoord ken nie, haal diep asem en kyk of jy dit nie kan uitwerk nie, vertrou jou instink en gebruik Rian as klankbord. Dis gewis een van daai gevalle van wie nie waag nie, wen nie – en énige prysgeld is mos ’n lekker bonus.

“En dis heerlik om te sien hoe die ratte van ’n deelnemer se brein so voor jou oë inklik – en indien nie, lag ons almal saam vir die dapper probeerslae.

“Boonop leer ’n mens heeltyd snaakse feite en bisarre trivia wat jy om die braaivleisvuur met smaak kan oorvertel, en die beste kenners en swemmers sit hoeka altyd aan wal.

“Almal wat kyk, wil hê jy moet goed vaar, en bewonder jou durf!”

Dus, as jy die vraag-klokkie hoor lui én weet waar die antwoord-klepel hang, weet jy wat om te doen. Hoe werk dit?. Mense wat wil inskryf, moet teen 15 Maart ’n aanlyn algemenekennistoets op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv voltooi. . Diegene wat na die volgende ronde deurdring, sal ’n telefoniese onderhoud met die vervaardigers doen en ’n tweede algemenekennistoets aflê. . Deelnemers moet 18 jaar of ouer wees. . Deelnemers sal tydig ingelig word oor die tye waarop hulle vir opnames beskikbaar moet wees.. Volledige bepalings en voorwaardes is op kykNET se webtuiste beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article