Bo is die voertuig waarin die 69-jarige Ivan Maqibela sy lewe verloor het en wie se liggaam uit die wrak uitgesny moes word. Regs: Die Jeep wat ook in die botsing betrokke was.Foto’s: One Way Towing

Credit: SYSTEM

Die lewe van ’n Worcesteriet is Sondag 12 Maart omstreeks 23:00 in ’n botsing, waarin drie voertuie betrokke was, geneem.

Volgens ooggetuies op die toneel het ’n Toyota Corolla en ’n bakkie agter mekaar op die R60 in die rigting van Worcester na Robertson gery. ’n Jeep het toe in die teenoorgestelde rigting van Robertson se kant af aangery en die bestuurder het blykbaar nie die verkeersirkel naby die Transhex-afdraai gesien nie.

“Die Jeep het oor die verkeersirkel gery en reg van voor in die Corolla vasgery. Die Corolla het weens die hengse impak in die bakkie vasgery,” het die ooggetuie gesê.

Sers. Grant Stynder van die Worcester-polisie het ook hierdie weergawe bevestig en bygevoeg dat talle beserings aangemeld is en paramedici mense op die toneel behandel het.

Die bestuurder van die Corolla is egter op slag dood.

Ivan Maqibela (69), wat in Zwelethemba gewoon het, was volgens sy broer op pad terug huis toe toe die botsing gebeur het.

“My broer het ’n vriend gaan oplaai en by ’n vulstasie afgelaai en is toe huis toe. Ons het gehoor die Jeep is in sy Corolla in vas en dat hulle hom en die passasier uit die wrak moes sny. Die Jeep se bestuurder het blykbaar nie die sirkel gesien nie,” vertel Ivan se broer, Grifford.

Hy sê sy broer was altyd ’n versigtige bestuurder en hulle sou nooit kon raai dat ’n motorbotsing sy lewe sou eis nie.

“Dit is baie hartseer. Ek het eers ’n paar uur later gehoor dat hy dood is. Ons gaan hom baie mis.”

Hy vertel sy broer was ’n geliefde en gerespekteerde man en altyd gereed met ’n grappie. Die gesin het ook die afgelope twee jaar hul ouers en ’n suster aan die dood afge­staan.

Die familie is nog besig om begrafnis­reëlings te tref en die broer sal na verwagting volgende week in die Oos-Kaap begrawe word.

Volgens ’n bron na aan Standard is die bestuurder en passasiers van die Jeep ook in die voorval beseer, maar hulle sterk goed aan.

Dit blyk die bestuurder is ’n plaaslike dokter.

Standard het sowat twee jaar gelede ook berig oor die verkeersirkel op die R60 en talle klagtes wat weens die sigbaarheid daarvan ontstaan het.

In die vorige berigte is verwys na die swak beligting in die gebied (veral tydens beurtkrag) en die feit dat talle aanwysingsborde nie sigbaar genoeg is nie. Die berigte het ook verwys na vorige botsings en die feit dat talle klagtes in die verlede ingedien is oor misdadigers wat voertuie op dié pad met klippe bestook.

Standard het die sirkel self ’n paar minute tydens beurtkrag besoek. Dit was baie donker en die borde is nie te duidelik nie – selfs nie eens as die hoofligte brand nie. In ’n kwessie van sowat agt minute het twee voertuie, wat van Robertson se kant af ingekom het, byna in die middelman vasgery.

Die munisipaliteit meen egter vandalisme in die gebied het ’n groot impak op die sigbaarheid van die pad en sirkel. Chad Malgas, woordvoerder by BVM, stel die volgende:

“Ligte is al talle kere herstel en vervang, maar word steeds deur herhaalde vandalisme geteister. Alhoewel verkeerstekens in die gebied aanwesig is, evalueer die BVM die praktiese toepassing daarvan om bykomende verkeerstekens op te rig. Dit is egter noodsaaklik om daarop te let dat hierdie optrede geen waarde sal oplewer as vandalisme seëvier nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article