Die Brandvlei-hengelkllub het die afgelope Saterdag by die Kwaggaskloof- dam kompetisie gehou. Van links is Jacques van Graan, Johan Coetzee, Megan van Graan en Peppie van Tonder.Foto: Pieter Wium


Die Brandvlei-hengelklub se kompetisie is die afgelope Saterdag in die Kwaggaskloof-dam gehou.

Hoewel dit ’n heerlik warm sonskyndag was, is baie witvis (barbus andrewi) uitgetrek. Hierdie is ’n bedreigde spesie en hengelaars mag net vyf met ’n minimum lengte van 23 sentimeter inweeg. Die visse moet boonop versigtig hanteer word sodat hulle veilig in die water teruggeplaas kan word.

Die dag het behoort aan die pa-en-dogter-kombinasie Jacques en Megan van Graan, wat onderskeidelik 32 en 23 visse elk gevang het. Jacques het die B-sone en meestersafdelings gewen en is as die algehele wenner van die dag gekroon.

Sy sak vis (17,290 kg) was die swaarste van die dag, terwyl sy karp (1,99 kg) en sy witvis (3,30 kg) die swaarste van die dag was.

Megan was tweede in die B-sone en die vroue- kampioen vir die dag.

Johan Coetzee het die A-sone gewen en was die beste in die senior afdeling vir die dag. Hier was Charl Ferreira tweede.

Danie Wilmot was die beste in die veterane-afdeling vir die dag met Peppie van Tonder agter hom in die tweede plek.

Die kompetisie het in ’n baie positiewe gees plaasgevind en veral die nuwe lede was beïndruk daarmee en met die goeie reëlings wat die bestuur getref het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article