ROBERTSON – ’n Groot soektog na ’n kleuter wat spoorloos verdwyn het, is sedert Sondag aan die gang.
’n Plasing is Sondag op verskeie Facebook-blaaie gedoen waarin gevra word om enige leidrade te deel.
Volgens Wayne Absalon, die oom van die kleuter wat een jaar en nege maande oud is, was die kleuter saam met sy pa voordat hy verdwyn het.
“Sy pa was vroeër die dag saam met my. Later, om 11:00, is hy huis toe, maar Cederick was saam met sy tannie, want sy ma was nie daar nie. My neef het hom toe gevat en hulle het geloop om sy ma te gaan soek,” verduidelik Absalon.
Hy en sy neef het glo gekuier en voor die voorval ’n paar drankies geniet. Hulle woon op ’n plaas in Agterkliphoogte net buite Robertson.
“Hy en Cederick het toe die pad gevat. Toe hulle by die hoofgrondpad kom, het hy besef die kind se doek is nat, en volgens wat hy vertel, het hy die doek afgehaal, die kind neergesit en huis toe gehardloop om ’n ander doek te kry. Toe hy teruggaan, was Cederick nie meer daar nie.”
Hy vertel ook dat die seuntjie se familie almal nog deurmekaar is. “Dis moeilik vir almal. My neef is ook in hegtenis geneem. Maar ek ken my neef, hy sal nie sy kind seermaak nie. Hy is self ook nog deurmekaar en kan nie lekker vertel wat presies gebeur het nie.”
Absalon verduidelik dat ’n reusesoektog na die kind sedert Sondag aan die gang is.
“Die polisie het kom help soek, asook die honde-eenheid en die brandweer. Al die damme en slote in die nabye omgewing is gefynkam, maar het niks opgelewer nie. Hier is ook baie gasteplase engastehuise in die gebied en die polisie het na hulle almal gegaan en gevra die eienaars moet asseblief hul gaste in kennis stel en vra of hulle enigiets weet of gesien het.”
Volgens die oom kan Cederick al loop, maar hy twyfel of hy so vinnig in ’n onbekende rigting kon gestap het.
“Hy begin maar nou eers stap. Hy kan nog nie baie treë gee nie, dan soek hy iets om aan vas te hou of val weer neer op de grond.”
Die saak word deur Worcester se eenheid vir gesinsgeweld, kinder-beskerming en seksuele misdrywe ondersoek. Enigeen met inligting oor waar Cederick is, kan die eenheid by 023 346 5800 skakel.





