Groot rugby keer eerskomende Saterdag (30 November) terug na die opgeknapte Esselenpark-stadion in Worcester wanneer altesaam sestien 7’s-rugbyspanne, twee 10’s-spanne en twee vroue-7’s-spanne mekaar in die bekende Worcester Warriors-rugby­toernooi pak.

Dié toernooi word elke jaar aan die 16 dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders opgedra. Vanjaar se tema is “Gelyk­heid”.

Die nasionale veldtog het Maandag (25 November) begin.

Volgens Charles Beukes, sportadministrateur, bring sport gelykheid onder geslagte en verenig dit gemeenskappe.

Die subtema is “Versterk Stemme”, wat beteken rolspelers in die stryd teen geslagsgeweld moet saamwerk sodat hul stemme duideliker gehoor kan word.

Kol. Sysie Pietersen, ’n bekende rugby-afrigter, is die programdirekteur.

Hammies Knights en Wayne Wilschut se Breakers pak mekaar in die Tiens-wedstryd vir spelers 35 jaar en ouer.

Spanne van so ver as Kraaifontein, Strand, Ceres, Touwsrivier, Saron, Wolseley, Hamlet, Paarl en Sandhills is vir die toernooi aanvaar. Heelwat spanne moes afgewys word.

Die departemente van maatskaplike ontwikkeling, gesondheid en justisie, die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), die nasionale vervolgingsgesag, die Thuthuzela-sentrum, die polisie en baie organisasies betrokke by die stryd teen geslagsgeweld is almal deel van die program.

Spelers gaan op dié dag bemagtig word met inligting oor seksualiteit en seksuele misdrywe.

Hulle gaan voorts uitgedaag word om ’n belofte teen geslagsgeweld af te lê.

Aangesien Wêreldvigsdag Sondag (1 Desember) gevier word, vorm dit deel van Saterdag se program.

Toegang beloop R20 per persoon en R10 vir voertuie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article