Verlede week Woensdag (31 Mei) is die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Nomafrench Mbombo, ingelig oor die vordering wat gemaak is met die Ceres-hospitaal se verbeteringsplan.
By dié byeenkoms is ook aangekondig dat die voormalige Netcare Ceres-hospitaal, wat deur die departement van infrastruktuur namens die departement van gesondheid aangekoop is, amptelik na die Wes-Kaapse regering (WKR) oorgeplaas is.
Dit beteken dat die gebou nou hergebruik kan word om die groter Ceres-bevolking te bedien.
Planne word tans gefinaliseer en daar word ook verwag dat bouwerk in November vanjaar sal begin, wat sal help met die ontwikkeling en uitbreiding van die hospitaalplatform en met pasiëntevloei.
Die Ceres-hospitaal het die afgelope agt jaar ’n gemiddelde bedbenuttingspersentasie van 90% tot 95% gehad en het by tye selfs 100%-kapasiteit bereik.
Die groeiende persentasie pasiënte met geestesversteurings by die hospitaal het ook bykomende druk op die beskikbaarheid van beddens geplaas.
As gevolg van verhoogde beddruk by verwysende geestesgesondheidshospitale kon die Ceres-hospitaal nie akute geestesgesondheidspasiënte oorplaas nie – wat gemiddeld twintig mense per maand is.
Verskeie inisiatiewe is geïmplementeer om die gehalte van sorg aan pasiënte met geestesversteurings binne die Witzenberg-distrik te verbeter. Dit sluit in:
- Die plaaslike geestesgesondheidsforum is versterk en uitgebrei om plaaslike nie-regeringsorganisasies asook regeringsdepartemente in te sluit;
- Al die diensverskaffers binne die bestek van geestesgesondheid was verbind en werk steeds saam tot voordeel van die pasiënte;
- ’n Akute- psigiatriese eenheid is gestig by die Ceres-hospitaal om gesondheidsorgdienste aan te vul; en
- Daarbenewens het die algemene saal nou 10 aangewese beddens vir geestesgesondheidspasiënte.
Volgens Elton Titus, die mediese bestuurder van Ceres-hospitaal, sal die Ceres-kliniek se dienste na ’n nuutaangekoopte gebou verskuif, wat ’n oorgangsorgfasiliteit sal huisves, en die middelpunt word van waar rehabilitasiepersoneel dienste aan die gemeenskap bied.
Dit is in ooreenstemming met die 2030-bedplan van die Wes-Kaapse departement van gesondheid om die amptelike getal beddens van 86 tot 112 vir die Ceres-hospitaal te verhoog.




