Groot opwinding wag hierdie naweek wanneer die Wynland-ovaalbaankampioenskap gehou word.


Die jaarlikse Wynland-ovaalbaankampioenskap vind eerskomende naweek, Vrydag 18 en Saterdag 19 Maart, by die Kleinplasie-skouterrein in Worcester plaas.

Altesame 135 deelnemers van oor Suid-Afrika heen het hulle reeds vir die byeenkoms ingeskryf. Die naweek word geborg deur Tony’s Motor Spares van Worcester.

Die Amerikaanse V8-Flexiklas pronk reeds met 13 inskrywings – Allan Booysen, die SA multi-kampioen met sy Bitzer Chev V8, moet vir seker die gunsteling wees, maar die huidige Wynland-kampioen van Oudtshoorn, Luciuos Fourie, met sy Nissan aangedrewe V8 sal sy titel suksesvol wil verdedig.

Die plaaslike jaers Manfred Oehl Tonys Chev, Hank Els Chev, die oud- Suid-Afrikaanse kampioen Frans du Toit en JD Truter, JJ de Wet, Rian Huisamen asook Elrika Groenewald, almal in Lexus aangedrewe motors, wil ook op die podium eindig. Tiaan Louw het die voormalige Bennie de Bruyn-kar gekoop en wil ook tussen die voorste jaers eindig.

In die 1660-klas het ’n besoeker of twee uit Gqeberha ingeskryf, wat die plaaslike kampioene Kosie Weyers, Jacques du Plessis, Francois Engelbrecht, Gert Ellis, Gawie Hendrickz en Adrian de Geus uitdaag.

Nigel Thorpe en Tristan Bland is altyd gereed om die voorste jaers die hoof te bied. Quinton Ellard van Victory Raceway kom jaag teen die plaaslike Hotrod-manne Elru Viljoen en Tyron Els, albei in motors met Mazda-rotorenjins, sowel as Llewelyn Kotze en Dain Parish.

Die stockrod-klas pronk met nie minder nie as 25 inskrywings en dit is baie moeilik om ’n wenner te voorspel. JD van der Berg het sy motor in die vorige byeenkoms gerol ná ’n onderonsie met Petrus Fereirra. Robbie Moore sal die naweek agter Van der Berg se stuur wees nadat die motor betyds herstel is. Christo Crouwkamp, Natasha Whitehorn en Denrich van Tonder van die Cape Helldrivers moet sekerlik nou van die gunstelinge wees.

Die hoogtepunt by die vorige byeenkoms was die Super Midget-klas. Met bekendes soos Schalk Swart, André Schafer (Weskus), Anton Lloyd, Stukkie van der Merwe, Ruan Koen en Donovan Huisamen in die klas, kan geen wenner vooraf voorspel word nie. Die manne se rondtetye is asemrowend en hulle hou die skare op hul voete.

Klubs wat deelneem, sluit in Mega Oval, Bloem Oval Raceway, Victory Raceway, PE Oval Track, Cape Helldrivers, Cape Agulhas Raceway, Oudtshoorn-motorklub, George-motorklub en Weskus Oval Track.

Renne vir die viersilinder-kontakklas, die junior klasse, vrouerenne asook die 2-liter-klas vir omgeboude motors, Heavy Metals en die V8 Sprint-karre word ook aangebied.

Verskeie stalletjies gaan by die terrein beskikbaar wees en aandenkings sal te koop wees. Promax Sound sal musiek en vermaak verskaf. Kaartjies vir die geleentheid is by die hekke te koop en toeskouers is baie welkom.

Vrydag open die hekke om 15:00 en die renne begin om 18:30. Saterdag open die hekke om 10:00 en die renne begin reeds om 13:00.. Besoek Mega Oval se Facebook-blad of skakel 083 350 9481 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article