Talle inwoners is steeds ontsteld ná ’n berig in verlede week se Standard weens die vyfjarige Henzin Bokbaard wat tragies dood is nadat ’n motor hom getref het.

In die berig verwys Standard na die polisie se verslag, wat lui Henzin wou ’n besige pad in die De Wet-omgewing oorsteek toe hy deur ’n voertuig getref is.

AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het aan Standard gesê die seuntjie het waarskynlik nie gesien dat die motor ’n waentjie gesleep het nie en het daarin vasgehardloop. Hy het geval en is weens die slag dood.

Jacobs het verder gesê ‘n onderonsie het tussen familielede van die oorlede seun en die bestuurder van die voertuig se seun uitgebreek, waarna die bestuurder tussenbeide wou tree, maar met ’n skerp voorwerp in die nek gesteek is. Drie mans het gevlug, maar is later in hegtenis geneem.

Jacobs het gesê ’n saak van strafbare manslag word na aanleiding van die seuntjie se dood ondersoek en ’n klagte van poging tot moord word ondersoek teen die mans wat die bestuurder op die toneel gesteek het.

Die drie beskuldigdes, wat in aanhouding was en vir wie borgtog in hul eerste verskyning kort ná die ongeluk geweier is, het Maandag (13 Februarie) weer in die hof verskyn. Die saak is egter tot Donderdag 23 Maart uitgestel vir verdere ondersoek en die drie beskuldigdes is op borgtog van R500 elk vrygelaat.

Die polisie kon teen druktyd nog nie bevestig of die bestuurder van die voertuig al aangekla is of nog aangekla gaan word nie.

Standard het sedertdien ’n e-pos-boodskap ontvang waarin beweer word die polisie se amptelike verslag is feitelik verkeerd. In die boodskap word aangevoer die seuntjie het onder ’n padteken gestaan, wat aangedui het dat voetgangers die pad gebruik. Die boodskap vermeld ook ooggetuies meen die polisie se weergawe is verkeerd en sy liggaam is oor die pad geslinger – so ook kledingstukke en sy rugsak.

Standard het aanvanklik voor die eerste berig na die familie probeer uitreik, maar is van bakboord na stuurboord gestuur. Standard wou verder – nadat ontevredenheid teenoor die koerant uitgespreek is – met die betrokke partye asook die skrywer van die e-pos-boodskap vergader, maar hierdie versoek is geweier.

Standard kan slegs oor gebeure verslag doen as ’n gesaghebbende bron inligting verskaf, soos die polisie of ooggetuies en familielede wat bereid is om ’n onderhoud toe te staan.

Standard kon egter ná vele probeerslae slegs die polisie se amptelike verslag sowel as die klagstaat van die hof gebruik om die nodige inligting in te win.

Die polisie hou egter by die inligting wat aanvanklik aan Standard verskaf is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article