Mega Oval Kleinplasie bied eerskomende Vrydag en Saterdag (24 en 25 Maart) weer die jaarlikse Wynland-renjaer-kampioenskappe aan.

Dit is die oudste ovaalbaankampioenskap in die Suid-Afrika, en renjaers van oor die land heen skryf in vir hierdie byeenkoms.

Die dag word aangebied in samewerking met Tony’s Motoronderdele in Worcester met inskrywings wat reeds die honderdtal bereik het.

In die 1660-klas is die twee Du Plessis-neefs die gunstelinge, maar hulle kan sterk mededinging verwag van Burger van der Westhuizen van Oudtshoorn.

Bernard Wessels van George Motorklub asook Francois Engelbrecht en Arno Hougaard van Mega Oval is ook onder die topjaers. Wilhelm Meyer gaan die trofee probeer wen vir die Weskus Klub.

In die 2.1-klas gaan die plaaslike vrouejaer, Daniella de Sousa, in haar blitsige Opel Tigra Flexi probeer om besoekende jaers soos Barend du Plessis van Bloemfontein asook Burger van der Westhuizen van Oudtshoorn verby te jaag.

Eugene de Wet van Mega Oval is die verdedigende Wynland-kampioen en hy sal saam met JP du Plessis jnr. en Michael Sinclair van George Motorklub op die podium wil eindig.

Die V8 Sedan-klas spog met drie voormalige Suid-Afrikaanse kampioene. Allan Booysen van Bloemfontein, Manfred Oehl van Mega Oval en Frans du Toit sal hul ry moet ken teen manne soos Albert Olivier jnr. van George Motorklub, Johan Cloete van Bloemfontein, asook JJ de Wet en Roger Youngs van die Weskus.

Bennie de Bruyn van George in sy Mazda Rotary moet die gunsteling wees in die Hotrod-klas, maar Pieter Swanepoel het onlangs sy terugkeer tot die sport gemaak en hy en sy spanmaat, Willie Germishuys, sal sterk teenstand bied.

Francois Smit het geskuif van die Heavy metal-klas na die Hotrod-klas, en sal sy stempel op die klas wil afdruk.

Dain Parish is die huidige klubkampioen en sal vir seker onder die topdrie wil eindig.

In die uiters gewilde Stockrod-klas is daar 18 inskrywings.

Wessel Rabe, Schalk Swart, Cameron Neethling, Hein Kleingeld, Anton Lloyd en JJ Whitehorn sal in die blitsvinnige Midget-klas deelneem.

Die hoogtepunt van die byeenkoms behoort die Heavy metal-klas te wees, met Nian du Toit, Alton Steyn, Marco Retter, en Pieter Human wat sterk teenstand behoort te kry van Lenno Muller van Oudtshoorn, asook JP Coetzee van Port Elizabeth. Tolla Truskey, sowel as Hendrik Vos jnr. en snr. en die nuweling Erick Horn sal sorg vir naelbyt-oomblikke.

Wedrenne begin Vrydag om 19:00 en Saterdag om 16:00.

Die wenner per klas word na die afloop van die twee dae se wedrenne gekroon.

Kosstalletjies asook ’n kontantkroeg is beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article