Deelnemers aan Brandvlei-hengelklub se klubkompetisie wat die afgelope Saterdag (15 April) in ’n private dam plaasgevind het, was bedrywig toe 249 karpe ingeweeg is.
Van hierdie getal is 49 deur Johan Stander gevang wat hom die wenner in die B-sone sowel as in die meestersafdeling gemaak het, en ’n algeheel tweede plek besorg het.
Die swaarste karp (3,78 kg) is gevang deur Megan van Graan met haar pa, Jacques, wat die tweede swaarste karp (2,76 kg) gevang het.
Pierre Snyman met sy 27 visse het tweede in die B-sone geëindig en daarmee sy beste prestasie nog in ’n klubkompetisie behaal.
Tiaan Coetzee het die penkopafdeling gewen, en Megan die vroue-afdeling.
Johan Coetzee was die wenner in die senior-afdeling.
Die dag het eintlik aan die entoesiastiese Danie Wilmot behoort wat sy meeste vis ooit (40) in ’n klubkompetisie gevang het en aan hom sy eerste algehele oorwinning besorg het.
Hy het dan ook die A-sone en die veterane-afdeling gewen.
Op die algehele puntestand vir die jaar tot dusver loop dinge baie gelykop, met Danie Wilmot in die eerste plek met net een punt voor Jacques, en vier punte voor Johan. Pierre is in die vierde plek.





