Grayton Rhode, sy ma, Annie, en sy onderwyser en afrigter, Gaewinne Niemand, saam met Cheslin Kolbe.


Nog een van Grayton Rhode se groot drome is onlangs bewaarheid.

Dié seuntjie het in die land se harte gekruip toe ’n video waarin hy op sy stompies rugby speel, op sosiale media opslae gemaak het.

Sedertdien het Vlok Cilliers se organisasie VlokSkop, in samewerking met Jumping Kids, vir hom prostetiese bene verskaf en sal so doen totdat hy klaar gegroei het.

Grayton was maar net vier jaar oud toe albei sy bene weens ’n mediese toestand afgesit moes word.

Hy het ook in die harte van verskeie Springbokspelers gekruip – soveel so dat Cheslin Kolbe hom ná hul onlangse wedstryd teen die All Blacks in die Kaap ontmoet het.

Hoewel Grayton ’n skaam outjie is, het hy dit terdeë geniet om een van sy helde in lewende lywe te ontmoet.

“Hy was so opgewonde en kon nie uitgepraat raak toe hy by die huis kom nie. Hy het sommer lekker by sy vriende gespog. Hy was so bly om Cheslin te ontmoet. Dit is sy gunsteling-rugbyspeler,” vertel sy ma, Annie Rhode.

Sy sê ook dat hy nou al aan sy prostese gewoond is. Hy gaan al met hulle aan skool toe.

“Hulle het nou die bene verander en vir hom voetjies aangesit, so dis nou meer gemaklik vir hom. Hy is gemaklik daarmee om daarmee skool toe te gaan, maar hy speel nou nog nie rugby met sy prostese aan nie,” sê Annie.

Sy vertel ook dat sy geweldig trots op haar seun is.

“Ek is so bly die dinge gebeur vir hom. Ek is ook baie trots op hom en hoe hy hierdie dinge hanteer. Ek is net so opgewonde vir hom,” sê Annie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article