Ná ’n lang proses het Grayton Rhode (9) uiteindelik nuwe “bene” ontvang.
Beide Grayton se bene is op vierjarige ouderdom weens ’n mediese toestand afgesit. Hy het vroeër vanjaar opslae gemaak toe ’n video van hom, waar op sy stompies rugby speel, op sosiale media versprei is. Dit het wyd en syd aandag getrek en daartoe gelei dat die voormalige rugbyspeler en afrigter Vlok Cilliers besluit het hy en sy organisasie VlokSkop gaan die kranige rugbybulletjie help om prostese te bekom.
Grayton is ’n leerder by die Stockwell NGK Primêre Skool in Ashton.
“Iemand uit Vanrhynsdorp het die video van Grayton vir my gestuur en gesê hy dink die foundation moet die mannetjie help. Ek het toe met Jumping Kids in kontak gekom en hulle het ingestem om aan boord te kom vir hierdie projek,” sê Cilliers.
Grayton se ma, Annie, sy skoolhoof en sy afrigter en onderwyser het verlede Woensdag die reis na Kaapstad aangepak waar Grayton uiteindelik sy bene kon aanpas en saam met hom huis toe neem.
“Dit was nogal baie oorweldigend vir die klein mannetjie en hy was ’n bietjie huilerig. Hy het aan die begin effens gesukkel, maar mettertyd sal sy bene sterker raak en sal hy gewoond raak om met die prostese te loop. Sy ma stuur gereeld vir ons foto’s en videos van hoe hy oefen,” sê Cilliers.
Toe Standard & Gazette Dinsdag vir Annie kontak, het sy gesê sy is juis besig om te kyk hoe Grayton met sy bene en krukke oefen.
“Hy was so gelukkig toe hy sy bene gekry het. Hy het baie daarna uitgesien. Hy is nog nie gewoond daaraan nie, maar elke dag wanneer hy van die skool af kom, trek hy self sy bene aan en begin dan met sy krukke te oefen. En ons loop lekker ver; ons loop sommer om die blok saam met hom,” vertel Annie trots vanaf hul huis in Ashton.
Grayton is nog nie dapper genoeg om met die bene skool toe te gaan nie, “want hy is bang hy val”, sê sy ma.
“So ver geniet hy dit om elke dag te kom oefen. Ek is so bly vir hom en so trots op hom, al is dit snaaks om hom nou op hierdie lengte te sien.”
Cilliers het ook verduidelik dat sy organisasie en Jumping Kids nog vir ’n paar jaar met Grayton gaan werk.
“Omdat hy ’n groeiende kind is, sal elke jaar verstellings aan die prostese gemaak moet word. Ons almal het daartoe commit om hierdie paadjie vir die volgende paar jaar saam met hom te stap.”





