Vlok Cilliers en sy vrou saam met Grayton Rhode.


Maande nadat Grayton Rhode (9) die land se aandag aangegryp toe hy op sy stompies op die rugbyveld in Ashton gehardloop het, geniet hy steeds al die regte soort aandag.

Nadat sy storie soos ’n veldbrand versprei het, het sy verhaal in talle publikasies en op verskeie televisiekanale verskyn. Hy het selfs die aandag van Suid-Afrika se nasionale rugbyspelers getrek en ’n persoonlike video van Cheslin Kolbe ontvang. Hy het selfs verlede Saterdag by die Stormers in hul kleedkamer gekuier.

Nog ’n rugbyster, Vlok Cilliers, het ook na Rhode uitgereik. Cilliers het vir jare rugby gespeel en ná sy uittrede as skopafrigter vir WP en die Bulle gewerk, asook vir die Franse nasionale rugbyspan.

Standard & Gazette was met Cilliers in gesprek.

“Ons is besig om vir hom geld bymekaar te kry om hom daardie prostese aan te skaf,” het hy laat weet.

Grayton se ma, Annie, is verheug oor hierdie verwikkeling in haar seun se lewe.

“Ek voel goed. Ek voel baie gelukkig hieroor,” sê ma Annie.


Meningococcal (breinvliesontsteking)
is op driejarige ouderdom by hom gediagnoseer, en dit het tot die dubbele amputasie gelei.

Sy vertel toe sy bene destyds afgesit moes word, was dit vir haar ’n baie moeilike tyd. “Dit was ’n baie hartseer tyd vir ons. Maar ek moes sterk gewees het vir Grayton.”

Toe haar seun vir haar sê hy wil rugby speel, was sy natuurlik baie bekommerd.

“Ek was so bekommerd dat hy sal seerkry. Maar dit is wat hy gesê het hy wou doen en ons het nie in sy pad gestaan nie. Vandag is ek baie trots op hom. Hy is net so trots op homself ook. Hy is baie opgewonde oor die bene wat hy gaan kry. Dit gaan soveel dinge vir hom verander. Sy hele doel in die lewe is om eendag ’n professionele rugbyspeler te word, en dit is gewis waaraan hy werk.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article