Ná meer as 60 jaar kry die sportveld van Steenvliet Primêre Skool in Touwsrivier nou gras.
Volgens die skool se hoof, Peter Jaftha, is die personeel en leerders opgewonde oor die gras wat geplant word.
“Ons het in 2010 ook probeer om gras te plant, maar toe was daar ’n tekort aan water en die munisipaliteit sê pertinent ons mag nie meer die gras water gee nie. Die gras het net verdwyn,” verduidelik Jaftha.
Hulle het by die Nasionale Lotery om finansiering aansoek gedoen. “Die finansiering was was nie genoeg vir die gras, die besproeiing en dreinering nie. Ons het hulle toe gevra of ons die geld net vir die gras kan gebruik. Ons het in Maart die gras begin plant.”
Jaftha sê hulle het die dorp se EPWP-werkers gevra om die veld vir die plant van die gras gereed te kry.
“Hulle het die veld voorberei. En nou sit ons almal maar hand by om die gras, soos dit hier aankom, te plant. Hierdie week sal daar nog so 2 500 m³ afgelaai word. Nou die dag het ek, ’n paar leerders en juffrou Candass Theunissen tot laat in die aand gras geplant.”
Hy noem ook dat hulle in die proses is om geld vir nog gras en die versorging daarvan in te samel.
“Dit was vir menige mens by die skool, die gemeenskap asook die bestuur van ouds ’n droom om ’n sportveld bedek met gras te hê, daarom werk ons so hard om hierdie droom te verwesenlik.”
Jaftha sê volgens sy kennis is daar laas in die jare tagtig sport op dié veld gespeel.
“Ek het self op hierdie veld gespeel toe ek jonger was. Maar later is daar besluit dat kinders nie meer op die sandveld moet speel nie. Deesdae maak ons maar gebruik van ander velde op die dorp vir ons sportaktiwiteite.”
Verder, verduidelik die hoof, beoog hulle om teen einde Augustus ten minste die speeloppervlak van die veld met gras te bedek.
Mense wat die skool wil help om hul jare lange droom verder te bewaarheid, kan hulle by 023 358 1239 kontak.





