Die afgelope week se reënskade het ook Villiersdorp geraak met die begraafplaas in dié dorp wat beskadig is deur die swaar reën en oorstromings wat groot dele van die Wes-Kaap tans beleef.
Hier was talle grafte onder water en die Theewaterskloof-munisipaliteit moes Saterdag (17 Junie) met behulp van kragopwekkers water uit verskeie grafte by die begraafplaas pomp.
Volgens Wilfred Solomons-Johannes, waarnemende munisipale bestuurder, is die situasie tans onder beheer, en alle water is uit die grafte gepomp.
Solomons-Johannes het wel aan Standard verduidelik dat sou reën en stormweer weer toeneem, water weer in die grafte sal inloop en weer uitgepomp moet word.

