Dit is bevestig – die Buitelug-en-veldry-Xpo Grabouw is op die eerste naweek in November net die plek om te wees vir mense wat van wiele en die buitelug hou.

En wat is ’n skou in dié deel van die land dan nou sonder vermaak, wynproe, kos vir Afrika en buitelugavonture?

Dié gesinsvriendelike buitelug-saamtrek bied gratis toegang vir kinders onder 12 met gratis toegang tot die kindervermaakgebied (speletjies en talle ander aktiwiteite), sowel as ’n gratis koeldrank en lekkergoedpakkie.

’n String woonwahandelaars, waaronder twee splinternuwe modelle kom bekendstel (wat nog nie op plaaslike bodem te sien was nie), sowel as talle ander wat alles van motors en 4×4’s tot kamptoerusting bied, sal Vrydag 3 November, Saterdag 4 November en Sondag 5 September by die Elgin-krieketklub buite Grabouw te sien wees.

Hoewel dié buitelugskou op hoofsaaklik dagbesoekers gemik is, is 40 kampeerplekke beskikbaar. Spring dus gou om jou staanplek by www.lrclassic.com te bespreek.

Wat dagbesoekers betref, moet kaartjies vooraf elektronies op die webwerf www.lrclassic.com gekoop word. Ouers hoef nie vir kinders onder 12 te betaal nie. Vir ouer kinders tot 18 kos dit elke dag van die skou net R20. Volwassenes betaal Vrydag en Sondag R40 (pensioentrekkers R20) en Saterdag kos dit R50 (pensioentrekkers R30).

Dié nuwe gesinsvriendelike Xpo bied koskarretjies wat als van worsrolle, hamburgers en draairoomys tot hout-oond-pizzas verkoop.

Die 2023-Buitelug-en-veldry-Xpo Grabouw pronk met ’n groot kinderonthaalgebied (Uncle George Kid’s Entertainment) met speletjies. Alle kinderaktiwiteite word deur Pon Steyn 4×4 in Somerset-Wes geborg. Gesigverf, ballonknopers, twee springkastele, inkleuraktiwiteite, kinderoppassers, TV-speletjies en ander aktiwiteite is vir die kleingoed beskikbaar – alles ingesluit.

Die skou, wat Vrydag van 12:00-18:00 oop is, Saterdag van 08:00 tot 18:00 en Sondag van 08:00 tot 15:00, sluit ook ’n biertent sowel as ’n baie eksklusiewe kaas-en-wynproe-geleentheid in.

Die biertent is elke dag oop, en die wynproe net Saterdag en Sondag, waarvoor wynproewers R250 elk betaal. Die wynproe-afdeling is in die Elgin-krieketklubhuis. Net kaartjiehouers word daar toegelaat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article