Sy het ’n stem van goud, maar het dit vir jare vir die wêreld weggesteek omdat sy skaam is en niks van die kollig hou nie.
Vanjaar het Shannon van Wyk van Roodewal in Worcester – met die hulp van haar koorafrigter – uit haar dop gekruip en die gehoor tydens die Worcester-skole-musiekfees met haar sangtalent verras toe sy haar eerste solo’s gelewer het.
Skole van Worcester en omgewing het aan die fees, wat 23 Augustus en 24 Augustus by Breërivier Senior Sekondêr aangebied is, deelgeneem.
Althea Jonkers, voorsitter van die Worcester-skole-musiekvereniging, sê Shannon sing nou al sedert gr. 1 in die skoolkoor.
Jonkers lei ook die senior koor van Roodewal Primêre Skool, waar Shannon tans ’n gr. 7-leerder is.
’n Trotse Jonkers sê toe die skool destyds hoor hoe mooi Shannon sing, het hulle haar toe al gesmeek om solo te sing, maar sy het die heeltyd daarteen vasgeskop.
Volgens Jonkers het sy vroeër vanjaar aan Shannon gesê dié jaar is haar laaste jaar by Roodewal Primêr en sy moet ’n solo sing. Jonkers sê Shannon het uiteindelik ingestem.
Sy sê Shannon het haar goed van haar taak gekwyt toe sy “They count on me” en “Lift me up” onder luide toejuiging van die gehoor gesing het.
’n Beskeie Shannon vertel aan Standard sy het aanvanklik niks daarvan gehou om voor ander mense te sing nie. Volgens haar het sy dit altyd verkies om in ’n groep te sing.
Sy sê toe sy vanjaar ingestem het om ’n solo te doen, het asemhalingsoefeninge en die volgehoue repetisies haar baie gehelp.
Shannon sê toe sy haar eie stem tydens vanjaar se fees hoor – dié keer voor honderde mense – was sy ’n bietjie senuweeagtig omdat dit die eerste keer was wat sy voor ’n groot gehoor gesing het.
Volgens haar het sy haar fokus vir die duur van haar twee solo’s op Jonkers gehou.
“Ek voel baie trots op myself. Ek sien nou uit na die volgende musiekfees.”
Jonkers meen Shannon se solo-optrede het haar selfvertroue ’n groot hupstoot gegee.
“As sy doen wat sy dié jaar gedoen het en so aangaan, kan sy ver kom. Sy moet in haarself glo en vashou aan haar drome omdat sy ’n musiek-loopbaan wil volg.”





