Die Primrose-rugbyklub het Saterdag (2 Maart) op sy tuisveld op al sy silinders gevuur toe hy Goudini 49-28 geklop het. Sy samespel was weer uitstekend en het Goudini pal op die agtervoet gehou.
Die punte het vroeg in die wedstryd begin opbou. Ná ’n goeie skrum het die skrumskakel, Tyrique Willliams, die bal gekry en agter die pale gaan druk en die eerste telling op die bord gekry.
Kort ná die inskop het Primrose sy agterlyn weggestuur en die senter Shameeg Williams het deur ’n gaping gesny en ’n drie gedruk, wat deur die losskakel, Jowin Nel, verdoel is (telling 12-0).
Goudini het kort hierna met ’n verdoelde drie geantwoord om sy eerste punte op die bord te kry – 7-12. Goudini het toe ’n strafskop gekry en die bal deur die pale gejaag (10-12).
Primrose se dissipline het hom egter in die steek gelaat en Goudini het ’n strafskop gekry, wat die telling 13-12 vir Goudini gemaak het.
Goudini het sy staal begin wys en uitstekende rugby gespeel, maar Primrose se verdediging het gehou.
Die vleuel Sergio Adams het die bal gekry en ’n verdoelde drie gedruk, en Primrose het die voortou met 17-13 geneem. Kort hierna het die agtsteman, Munir Valley, ook vir Primrose gedruk – rustydtelling 22-13.
Goudini het kort ná die tweedehelfte-afskop weer ’n strafskop gekry en die telling na 16-22 omgeswaai.
Die wedstryd het goed momentum gekry en die twee spanne het mekaar behoorlik aangevat, maar Goudini het die beste daarvan afgekom en weer gaan druk – agter die pale – en die twee spanne is byna kop aan kop met 22-21 vir Primrose.
Primrose het hom egter reggeruk en sy heelagter, Mario Alberts, het sy opponent geklop en ook sy drie gedruk.
Primrose was onkeerbaar en Jowin Nel, losskakel, het ook sy drie gedruk, gevolg deur Miegie. Primrose was goed op die wenpad met 39-21.
Goudini het egter steeds nie moed opgegee nie en ook weer gaan druk.
Primrose se plaasvervanger, Nathan Louw, het ook van hom laat hoor en ’n verdoelde drie gedruk, gevolg deur ’n suksesvolle strafskop vir Primrose, en die eindfluitjie het op 49-28 vir Primrose geblaas.

