“Vir my het dit alles in die huis van die Here begin. Dis waar ek grootgeword het en my kersie vir sang en musiek aan die brand gesteek is.”
Só sê Jerome Scholtz (39) oor sy liefde vir sang en musiek. Jerome is in die Paarl gebore, maar het baie jare in Worcester deurgebring. Hy het grootgeword in ’n familie waar musiek ’n groot liefde was en dit het hom van kindsbeen af geïnspireer.
Musiek het so ’n groot rol in Jerome se lewe gespeel dat hy op 1 Julie sy eerste musiekalbum, met tien liedjies, gaan vrystel.
“Dit was nog altyd ’n plesier om kitaar te speel asook om te sing, veral in Sondagskool.”
Jerome was gebroke toe sy ouers vroeg in sy lewe geskei het, maar dit het nie sy kersie vir gospelmusiek geblus nie.
Hy sê dat dit het hom net nader aan dié musiekgenre gebring en hom verder laat ontwikkel.
Jerome was bevoorreg om by vele rolspelers op verskeie stadiums in sy lewe te kon leer.
In 2001 het hy verhuis na Worcester en die voorreg gehad om in Ebenaeser onder die leiding van apostel James Davids se vlerk te beland.
Jare hierna het hy ook aangesluit by die bekende musiekgroep Kunjalo. Hierna het hy en ’n goeie vriend besluit om toe ’n mans-gospelgroep te begin, met die naam Men-blessed.
“Op hierdie stadium kon ek meer aandag skenk aan my sang. Uit hierdie groep het ek werklik baie geleer en kon ek my toe begin uitleef in dit wat God vir my gegee het. Ons was bevoorreg om te sing by die Ubuntu Festival wat ’n viering was van oorlede president Nelson Mandela se verjaardag. Dis oomblikke wat ek altyd sal koester.
“Dis nooit te laat om jou drome na te streef nie. Die album wat ek op 1 Julie vrystel, het vir ons byna twee en ’n half jaar geneem om te voltooi. Dit is ’n album vir oud en jonk. Hierdie lewensreis het my geleer om vir absoluut niemand terug te staan in hierdie wêreld nie. Dit is hoe ek jongmense wil aanspoor.”
. Jerome se album sal 1 Julie by die Maranatha-godsdienssentrum in Worcester vrygestel word. Die vertoning begin om 18:00 teen R100 ’n kaartjie.





