By die Golden Oldies-sangmiddag – van links is Neil Pietersen (programdirekteur), Naomi Nel (raadslid), Deon Kleynhans, Sammy Louw en Ronnie Apollis. Foto: Jolande Schneidr

Credit: SYSTEM

Ná die eerste suksesvolle aanbieding van die Golden Oldies-sangmiddag vroeër vanjaar, was die groot uitdaging om die tweede aanbieding van dié konsert nog beter te maak.

Hieraan is gewis voldoen, want ná Sondag (5 November) se vertoning in die Worcester-stadsaal gaan mense nog dae aaneen oor die plaaslike talent wat weer eens uitgestal is, praat.

Die vertoning het in ’n stampvol saal op ’n hoë noot begin met die bekende Ronnie Apollis en sy groep, wat die saal op ’n jolige noot en in regte Kaapse Klopse-tradisie al dansende binnegekom het.

Hierna het die bekende opvoeder Neil Pietersen die verrigtinge op sy allerbeste as programdirekteur flink laat vloei.

Eerste aan die beurt was die singende skoolhoof Hubert Titus met sy weergawe van “I’ll be over you” en Paint my Love”.

Dit is gevolg deur ’n weergawe van “Hopelessly devoted to youdeur die polisiebeampte Claudia Ceasar.

Die nimlike Cedric Andrews het die waarderende gehoor in vervoering gehad met sy vertolking van “Imagine” en “Words”, voordat nog ’n voormalige Worcesteriet, die skoonheidskoningin Francis Klink, ná ’n afwesigheid van meer as 40 jaar weer haar verskyning op die plaaslike verhoog gemaak het.

Seker een van die grootste verrassings van die middag was toe nog ’n voormalige opvoeder en afgetrede skoolhoof, Sammy Louw, op die verhoog verskyn het. Nie net was dit sy eerste verskyning op ’n openbare verhoog in die ouderdom van 70 nie, maar het hy met sy vertolking van “Second Times” en “For the good times” sommer diep in die harte van die waarderende gehoor gekruip.

Die veelsydige Lanzo Daames, tesame met die kitaarmaestro Charles Baxter, en met Donny Fortuin en die res van hul orkes het self gesorg vir voetjeuk-lekkerte voordat nog ’n Worcesteriet en nuwe toevoeging Verne Voigt die gehoor in vervoering gehad het.

Die voormalige Ressless Children-ster Greg Smith en sy neef Freddie het met ’n versameling duette die skare in die regte gemoedstemming geplaas vir die groot gunstelinge Deon Kleynhans en Ronnie Apollis.

Apollis het die middag met sy weergawe van “Cry to meen Kantienstraat” op ’n besonderse noot afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article