Tien tannies van die Awendrus-ouetehuis sien weekliks uit na die byeenkoms van hul breigroepie.
Die Golden Girls, soos hulle hulself genoem het, het 9 Mei met hul groepie begin.
Jenny Wilson sit agter hierdie idee.
“Dit was nog altyd iets wat ek vir ons plaaslike bejaardes wou doen sedert ek elf jaar gelede afgetree het. En in Mei het ek net besluit dit is nou die tyd om dit te doen,” vertel Wilson.
Die groepie kom elke Dinsdagmiddag in die tehuis se eetkamer bymekaar en brei en gesels dat dit gons.
Die oudste lid van die Golden Girls, Lea Beyers, is 93 jaar oud en staan nie vir haar breipatrone agteruit nie.
“Ek was elf of twaalf jaar oud toe ek begin brei het. ’n Ou tannie het my destyds geleer brei,” vertel tannie Lea.
“Ek brei al reg deur my lewe en het al verskeie truie vir verskeie familielede oor die jare gebrei.”
Die ander lede stem almal saam hierdie weeklikse instelling is iets waarna hulle elke week uitsien.
“Ek geniet die breiwerk en sien só uit na Dinsdae,” het een tannie gesê.
’n Ander voeg by: “Dit is so lekker om nuwe mense en gaste deur die groep te ontmoet.”
Vir nou brei die Golden Girls vir hulself mussies, serpe en komberse.
“Daarna sal ons begin uitreik en aan ander organisasies skenk, en ook van ons goedjies verkoop sodat ons geld kan insamel om meer wol te koop,” sê Wilson.
Om die breigroep op die been te bring, het Wilson self wol en naalde gekoop en later ook uitgereik na familie en vriende om skenkings in die vorm van Charity- en Chick-wol aan die breiers te oorhandig.
“Daai twee wol-make brei die lekkerste. As enige een ooit vir ons wol wil skenk, kan hulle of by Innovation for the Blind Charity-wol koop of by Checkers Chick-wol koop. Ons sal dit tog so baie waardeer,” sê Wilson.





