Esselenpark Sekondêre Skool in Worcester sit al die afgelope twee maande sonder ’n rekeningkunde-onderwyser, dus moes die gr. 10- en g. 12-rekeningkundeleerders self sien en kom klaar.
Volgens Millicent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), was die rekeningkunde-onderwyser twee maande op siekteverlof en slegs af en toe by die skool, wat die matrieks en die gr. 10-klas sonder vaste onderrig vir die vak gelaat het.
Maar volgens Merton is ’n plan uiteindelik gemaak.
“ ’n Onderwyser by die skool bied klasse aan die gr. 10-leerders, terwyl die matrieks naskoolse klasse bywoon, wat deur ’n onderwyser van ’n ander skool in die dorp aangebied word. Die kurrikulumadviseur het ook notas aan die leerders verskaf,” het Merton verduidelik.
Merton het verder aan Standard gesê die pos is wel geadverteer, maar nog nie gevul nie.
“Die skool is steeds besig met die werwingsproses en sal so gou as moontlik ’n onderwyser aanstel. Dié onderwyser sal tot die einde van die derde kwartaal op kontrak aangestel word,” volgens Merton.
Standard het die WKOD gevra hoekom ’n rekeningkunde-onderwyser nie vroeër aangestel is nie. Hierop het hulle verduidelik die rekeningkunde-onderwyser wat in hierdie tydperk met siekteverlof was, was nie lank genoeg weg om die pos te adverteer nie.
Volgens Merton sal die leerders – veral die matrikulante wat vir hul rekord- en eindeksamens moet voorberei – ’n geleentheid gegun word om die werk wat hulle misgeloop het, in te haal deur ekstra klasse by te woon.
Skoolwerk wat nie bespreek en dus nie behandel is nie, sal ook nie in die Junie-eksamen se vraestelle verskyn nie.

