Verlede maand was Vrouemaand.
Op 9 Augustus 1956 het duisende dapper vroue van alle rasse (onder andere Sophie de Bruin en Helen Joseph) na die Uniegebou opgeruk om teen die dra van passe te betoog. Hulle is geskiet en geslaan. Ek hoop dat op volgende jaar se Vrouedag duisende mans en vroue van alle rasse sal opruk na die Uniegebou om teen geslagsgebaseerde geweld te betoog.
Ek is ook gatvol vir Eskom en die regering! Ons elektriese toestelle breek en die versekering weier om te betaal omdat beurtkrag nie in die kontrak voorkom nie. Volgens Ted Blom val die geboue by Medupi- en Kusile- kragsentrales uitmekaar as gevolg swak sementmengsels. Kaapstad ondervind die minste beurtkrag in die land omdat hy hidro-elektrisiteit opwek. Kan die regering nie sy voorbeeld landwyd volg nie?
Op Saterdag 6 Augustus vind beurtkrag presies halfpad tydens die geskiedkundige rugbytoets tussen die Springbokke en die All Blacks op Nelspruit plaas. Dit was onsensitief en selfs wreed! Kon die minister van vlagpale en museums (Nathi Mthethwa) en die minister van steenkool (energie het ons nie!) naamlik Gwede Mantashe dit nie verhoed het nie?
Hulle moet onthou wat jy saai sal jy maai. Die regering gaan die vrot vrugte van hul optredes pluk. “Your days are numbered!”
Suid-Afrika is ’n mislukte staat. We cannot beat around the bush anymore! Daarvoor sorg korrupsie (diefstal), kaderontplooiing, beurtkrag, staatskaping, plundery (veral Mandelamaand 2021-’22), slaggate in paaie, brande (selfs die parlement), sinkhuise op treinspore, moorde in tavernes en townships, plaasmoorde, werkloosheid (byna 50%), skietery op Interkaap-busse, soustreine, onwettige myners.
Die regering wat so plekname verander, kan daardie geld gebruik om die gemors by Eskom reg te maak. O ja, soustreine het mos nie treinspore nodig nie.
Die Springbokke kon in 2009 laas onder Peter de Villiers die All Blacks drie keer agtermekaar klop. Ek het so gehoop hulle kry dit vanjaar weer reg. Hulle (veral Malcolm Marx) het hul opponente se balle op die grond gesteel soos sommige politici die staatskas besteel. Ons sportspanne vaar goed ten spyte van ’n patetiese Mthethwa. Ten spyte van nog ’n swak minister van onderwys, Angie Motshekga (haar voorgangers was nie eintlik beter nie) leer ons kinders goed onder omstandighede en kan hulle sien hoe die regering die land op vele maniere opmors.
Ek wil nou nie soos ’n plaat by Eskom vashaak nie. (Ken die kinders nog plate?) Eskom-werkers word glad deesdae met hul lewe gedreig. Dis duidelik daar is ’n Derde Mag wat nie wil hê André de Ruyter moet Eskom regruk nie.
Ek kry ons land se polisiemanne /vroue regtig baie jammer. Met die man met die cowboy-hoed (Bheki Cele) as hul minister kan ek nie anders nie! Ek stem saam met Glenda Arendse van Lentegeur-Oos se buurtwag wat sê Cele moet sy hoed vat en gaan. Hy beteken niks! Pres. Cyril Ramaphosa hou hom net aan om nie nog verder stemme in KZN te verloor nie. Ons land se ministers kan net lieg, brêk en steel.
Laastens, as ouers van ’n Oud-Donkie wil ons baie geluk sê aan Worcester Gimnasium vir sy pragtige musiekblyspel Mamma Mia verlede maand. Baie geluk aan die prinsipaal, sy personeel, leerders en ouers. Julle kan almal trots wees op julleself.
Ek wil net gou vir julle ’n Eskom-grap vertel, maar ek het nie krag nie!





