Grayton Rho­de laat nie die feit dat hy nie bene het nie, hom terughou nie. Foto:


’nVideo van ’n seuntjie sonder bene op die rugbyveld het vandeesweek oral op sosiale media verskyn.

Albei Grayton Rhode (9) se bene is onder die knie afgesit. Hy is tans ’n gr. 3- leerder aan Stockwell Primêre Skool in Ashton en het nog altyd baie in rugby belanggestel.

Grayton het op driejarige ouderdom sy bene verloor nadat meningococcal meningitis by hom gediagnoseer is.

“Hy stel al van graad een af in rugby belang, maar ek was altyd ’n bietjie versigtig, want ek het nie geweet wat sy mediese toestand was nie en ek was bang hy kry seer,” verduidelik Gaewinne Niemand, Grayton se afrigter. “Toe hy hier aankom, was hy in ’n rolstoel, maar later het hy net so begin loop en gebruik liewer kniebeskermers.”

Nadat Niemand met die blitsige seuntjie se ma gepraat het, het hy amptelik deel geraak van die skool se o.9-span.

“Hy is sedert graad twee amptelik lid van die span. En sy spanmaats hanteer hom glad nie anders nie. Hy is een van ons. Selfs voordat hy rugby gespeel het, het hy atletiek vir die skool gedoen en dis waar ek opgelet het hoe vinnig hy werklik kan hardloop.”

In Niemand se 15 jaar in die onderwys is dit die eerste keer dat hy ’n leerder met geampu­teerde bene in sy span het.

“Dit is vir my baie inspirerend. Daar is so baie kinders wat nie aan sport wil deelneem nie. En dan is daar hierdie seuntjie wat so ywerig is.

“Dit maak my hart baie bly om hom so te sien.”

Niemand noem ook vir hul opponerende spanne is dit nogal ietwat van ’n skok wanneer hulle vir Grayton op die veld gewaar.

“Hulle is mos nie gewoond daaraan om hom te sien nie. En hulle is ook altyd bang dat hulle hom kan seermaak.

“Maar ons kinders is gewoond aan hom; hulle woon almal naby mekaar, so hulle het hom geken selfs voordat hy by ons begin skoolgaan het.

So daar was ook nie ’n situasie waarin hy deur sy klasmaatjies geboelie is nie.”

Die video wat die ronde gedoen het, is tydens die span se eerste wedstryd vir die jaar geneem, dus sal Grayton en sy span nog in vele meer gesien kan word, en selfs nog tot ver in die toekoms ook.

“Sy ma het genoem dat hy graag ver wil gaan met sy rugby. En as ek ook so aan hom dink, herinner hy my aan ’n skrumskakel, want hy is lekker vinnig.

“Dalk eendag in die toekoms kan hy aan die Paralimpiese Spele deelneem. Vir nou is daar nog nie genoeg geld vir prosteses nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article